GEORGE NUUS - Moses Williams, die jong plaaslike komediant wat in sy matriekjaar roem verwerf het na sy debuutvertoning, Coloured Laaitie in 2013, is binnekort by die George-burgersentrum op die verhoog te sien.
"Ek vertel my mense se stories. Ek praat van dinge waarvan ek weet," verduidelik Moses.
Die 23-jarige boorling van Graaff-Reinet se passie vir komedie het gegroei gedurende sy hoërskoolloopbaan. "Ek het soos 'n Shakespeare Superman gevoel," beskryf Williams sy emosie na sy eerste vertoning. Daarna het nog vertonings, Ware Leeuns, Kroes is Woes, Kleurlingsake en Home Affairs gevolg.
Die komediant spog ook met ander prestasies. Hy is die enigste lid van die gewilde produksie en groep, Kinders van die ses, wat nie van Kaapstad is nie. Williams se grappies het al bekendes soos, Emo Adams, Theodore Jantjies en Dann-Jacques Mouton vermaak en sedert 2016 het 'n aksievideo van hom al meer as
300 000 kykers op sosiale media gelok.
Sy nuutste produksie, Home Avêrs, sal op 29 April by George-burgersentrum om 16:00 te sien wees. "Dit is my 10de jaar in George, dis juis hoekom ek besluit het om groot te gaan met die grootste burgersentrum in die Suid-Kaap," sê Williams.
BBP-kaartjies is uitverkoop en algemene kaartjies verkoop teen R50 per persoon.Vir meer inligting skakel Williams by 074 301 2415, of besoek sy Facebook-blad Mc Moses Sa.
Williams bedank sy hoofborg, Urban Loop Streetwear.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'