TUINROETE VERMAAK NUUS - Terwyl feesgangers bederf word met vermaak en van die land se grootste kunstenaars tydens die Afrikaans is Groot Somerfees, gaan hulle ook die geleentheid kry om hul harte oop te maak en by te dra tot die toekoms van plaaslike leerlinge in George.
Tydens dié fees, wat op Saterdag 28 Desember op Mosselbaai plaasvind, sal die #MoewieseBlikskud-veldtog saam met Elsvis Blue van stapel gestuur word.
Met dié projek beoog die organiseerders van Afrikaans is Groot om R300 000 in te samel vir die gemeenskapsorganisasie, Life Community Service, om hul sodoende by te staan met die bou van 'n nuwe skool in George.
Hierdie organisasie lê vir Elvis Blue, wat ook op die verhoog in aksie gaan wees, na aan die hart en dis juis hy wat voorgestel het dat die fees by die projek betrokke raak en só 'n onuitwisbare nalatenskap agterlaat.
"Met dié projek plant Afrikaans is Groot ook sy wortels in die Suid-Kaap en gee daardeur terug aan ons lojale ondersteuners in dié area," het Elvis gesê.
Life Community Services bestaan al bykans twintig jaar en help daagliks duisende families met kos. Toe hulle vroeër vanjaar die perseel waar hulle gehuur het moes verlaat, kon hulle hulself op nuwe gronde vestig, maar maak staat op donasies vir die aanbou van die geboue en die skool.
"Toe ons besluit het op die Afrikaans is Groot Somerfees op Mosselbaai, het ons ook dadelik besluit dat ons die plaaslike gemeenskap gaan ondersteun. Met dié inisiatief vertrou ons dat ons feesgangers sal help om die lewens van ander te verryk," het Johan C Venter, bemarkingshoof van Afrikaans is Groot, gesê.
Feesgangers sal op die dag hul bydrae in blikke kan plaas en moet op die uitkyk wees vir die personeel wat spesiale kopdoeke sal dra om die #MoewieseBlikskud-veldtog te bemark. Met die teiken van R300 000 sal die fondse bydrae om twee nuwe klaskamers vir die skool te bou.
Afrikaans is Groot vind op Saterdag 28 Desember by die Van Riebeeck Stadion plaas met van die land se grootste kunstenaars.
Vir meer inligting oor dié projek besoek gerus www.lifecommunity.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'