GEORGE NUUS - Dit is ’n normale behoefte by die mens om tussen verskillende vestings te beweeg, hetsy tydelik of permanent. Om vanaf een plek na ’n ander te beweeg, moet daar paaie en in baie gevalle ook passe wees.
So vroeg soos 1752 was daar reeds ’n gevestigde roete tussen Kaapstad, oor die Outeniquaberge en dan verder in die Langkloof af. Gedurende die laaste kwart van die 18de eeu het trekboere in toenemende mate op die natuurlandskap ingegryp.
As gevolg van die gebrekkige verkeersweë oor die Outeniquaberge en deur die Rooiberg (wes van Calitzdorp), het togryers uit die Oudtshoorn-omgewing en later vanaf George ’n algemene gesig op dorpsmarkte geword. Teen dié agtergrond het die toenemende sosiaal-ekonomiese bedrywighede ’n behoefte aan goeie bergpasse laat ontstaan. Tussen die Klein-Karoo en die kus, spesifiek George, is die Montagupas in 1847 voltooi.
Met die toenemende bevolkingsgroei en ekonomiese vooruitgang van Oudtshoorn het mnr. Hendrik Jacobus Raubenheimer, ’n prokureur in George, die Nasionale Raad vir Padbouers oortuig dat daar ’n behoefte aan ’n meer gebruikersvriendelike pas is. Sy voorstel is aanvaar.
Ter wille van konteks is dit nodig om inligting rakende die bouers van bekende paaie en bergpasse, waaronder die Outeniquapas, te gee. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Italiaanse krygsgevangenes na Suid-Afrika gekom. Voordat hulle die destydse Unie in 1941 binnegekom het, het generaal Jan Smuts die Nasionale Raad vir Padbouers opdrag gegee dat van die krygsgevangenes hoofsaaklik vir die bou van paaie en passe aangewend moes word.
Italiaanse krygsgevangenes is in 'n tentedorp aan George se kant van die berg gehuisves.
Volgens die Oudtshoorn Courant van 6 November 1942 het professor J.S. Marais tydens die Nasionale Landboukongres in Bloemfontein bekend gemaak dat Italiaanse krygsgevangenes deur privaatorganisasies in diens geneem kon word. Die Departement van Bosbou het 8 000 in diens geneem, terwyl die nasionale padorganisasie van Suid-Afrika van hulle in diens geneem het vir die bou van passe en paaie. Boere kon hulle ook in diens neem teen ’n vergoeding van vier sjielings per dag.
So berig die Oudtshoorn Courant op Woensdag 1 Desember 1982 dat ’n Italianer, mnr. Mario Zoli, ’n werknemer van die George-munisipaliteit se parke-afdeling, pas ’n trimpark vir die dorp aangelê het. Vandag staan dit as die Van Riebeecktuine bekend. Sy dogter, Giovita, vertel dat haar pa in Italië ’n fabriekwerker was. Hier in Suid-Afrika het hy op ’n plaas in Robertson gewerk en hom ná 1945 in George gevestig.
Met hul aankoms in die Unie is die krygsgevangenes in ’n kamp in Zonderwater, 40 km oos van Pretoria, gehuisves. Daar is besluit dat 500 van die krygsgevangenes na George gestuur moes word om die Outeniquapas te help bou. Die eerste 52 het op 17 November 1942 per trein hier aangekom en ses dae later nog 450. Die pas is deur die argitek P.A. de Villiers geteken.
Die Italianers is in ’n tentedorp aan die suidekant van die berg gehuisves. Daar is dadelik met die werk begin, met mnr. E. van der Westhuizen as toesighouer.
Daar is ook voorsorg getref dat die gereedskap gereeld in stand gehou moes word, en ’n werkswinkel is opgerig.
'n Werkswinkel is opgerig vir onderhoudswerk aan gereedskap.
Van die 500 krygsgevangenes was slegs 18 opgeleide droëmuurbouers, met ander woorde, hulle was opgelei om ’n muur met klip te bou sonder om sement te gebruik. Die res van die bouers was omtrent almal professionele kunstenaars, musikante en gewone burgers. Ná die repatriasie van die krygsgevangenes in 1945 was slegs een tiende van die werk gedoen. Clifford & Harris het oorgeneem en die pas met 250 swart gevangenes voltooi.
Die pas is op 20 September 1951 amptelik geopen deur die destydse minister van vervoer, mnr. Paul Sauer, en die funksie is deur 1 600 mense bygewoon. In retrospeksie moet ons erken dat die pas deur 752 onopgeleide arbeiders gebou is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’