OPINIE - Die Bybel, God se woord het so baie gedeeltes wat oor Jesus se koms aarde toe gaan, maar een wat my altyd naby aan die hart lê, is Lukas se vertelling daarvan.
Ek som hoofstuk 2: 10 – 12 in twee sinne so op uit die Nuwe Lewende Vertaling:
“Maar die engel het hulle gerusgestel: ‘Moenie bang wees nie!’ het hy gesê. Ek bring vir julle goeie nuus (tyding) wat groot blydskap vir almal inhou! Julle sal ‘n kindjie vind wat in ‘n krip lê en in doeke toegedraai is.”
Die gedeelte vat hierdie ongelooflike gebeurtenis wat ons tans herdenk so mooi saam: die belofte, die eenvoud, die inklusiwiteit, en God se manier van werk wat so uniek aan Hom is.
Kersfees, die Heiland, die Verlosser van die wêreld se koms, is God se inisiatief en nie die mens s’n nie. (John 3:16 en Galasiërs 4:4).
Kersfees begin nie by liggies, geskenke of tradisies nie. Kersfees begin by God wat uitreik na die mens, na jou en my.
Die wêreld probeer baie hard om Kersfees te besit, verpak en dit te verkoop, maar die Bybel sê: God het eerste beweeg!
Ons, ek en jy, moet sorg dra dat dié waarheid te alle tye behoue sal bly. Die mens het nie opgeklim na God toe nie; nee, God het afgebuig na die mens toe. Dit nie omdat ons reg was nie, maar omdat Hy getrou is aan Sy liefde!
Kersfees is nie God se reaksie op hoe goed die mens geword het nie, maar dit was God se antwoord op hoe verlore die mens was.
Die gevolg is dat as ons as mens hierdie “groot geskenk” wat Jesus op die kruis van Golgotha deur Sy bloed vir ons vrylik geskenk het, aanvaar, word ons Sy eiendom, Sy eie kinders.
As jy nog nie die getuienis dra dat jy dié groot geskenk aanvaar het nie, doen dit hierdie Kersfees net soos jy die geskenke aanvaar wat geliefdes vir jou gee en omgekeerd.
As ons dié “kersfeesbril” opsit en na 2026 kyk, dan is daar hierdie stil versekering van “moenie bang wees nie, want ek bring vir julle ‘n boodskap van goeie hoop soos vervat in Matthéüs 28:20 (Afr 1953): “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”
Ons hoop lê juis in die feit van God se belofte wat vlees geword het! Dit lê nie in ‘n blouligbrigade nie, of in gepandserde voertuie nie, nog minder in een of ander politieke aankondiging nie.
God se werk soos met die aankondiging van Jesus se koms, is dikwels stil, eenvoudig en meestal onderskat, maar dit dra hemelse gesag!
God het gekom, Hy het ons nie vergeet nie, Hy is steeds bereikbaar deur Sy woord en gebed en jy hoef niks vir iemand te bewys nie.
Vertrou jy net op Hom met jou hele hart in die nuwe jaar wat onbekend voor ons lê!
*Christo Maree het op 60 as kapelaan van die Suid-Afrikaanse Polisiediens afgetree en in Desember 2023 sy emeritaat as leraar uit die Bybelgenootskap aanvaar. Daarna het hy hom in Hartenbos kom vestig, waar hy steeds aktief sy bediening uitleef.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’