"Ek dink ek wil trou! Nie gedink ek sou so kon voel nie, en nou tóg! Maar… hoe wéét ek?" - 'n kosbare vriend se woorde wat my bybly. Ek vertel vir oom Klaas en sy eerste antwoord is: "Jong, trou is soos 'n groot nood as jy te veel kasterolie in het, as hy kom, dan kom hy – keer, keer jy nie vir hom nie."
"Maar kom ek vertel jou wat 'n mens kan oplet oor twee mense se saamwees. Dit lê alles in die maak van 'n toebroodjie, sien jy.
"As jy wonder of die mens in jou lewe wel jou anderhelfte is, vra vir daai mens om vir jou twee toebroodjies te maak. Vra vir een botterbroodjie en een soet- of soutbroodjie – wat jy ookal wil proe. En terwyl hulle gemaak word, hang jy ongesiens rond en let fyn dop wat gebeur.
"Kyk hoe die snye gesny of uitgepak en neergesit word. As hulle hardhandig of ongeërgd neergekletter word, loop kamer toe en loop gooi jou klere bymekaar; loop agterdeur toe, trek jou loopskoene aan en trek daai deur agter jou toe en kyk nie om nie. As 'n sny brood neergesit word asof hy nie saak maak nie en nie 'n basiese bron van voeding is nie, weet hoe jy behandel sal word wanneer die glans getaan het of die geduld dun geskaaf is in die jare wat kom.
"Dan let jy op hoe hulle gesmeer word. Daar is 'n groot verskil tussen smeer 'n sny brood van hoek tot kant, korsie tot korsie – versigtig en egalig, maar deeglik, of smeer die sny brood net waar die smeerding plak. Dis hoe daar jare vorentoe vir jou menswees omgegee sal word.
"Kyk ook maar of die botterbroodjie dieselfde of meer botter opkry as die ander broodjie. 'n Botterbroodjie kry mos net botter op – daai toebroodjie moet meer botter kry as die ander een. Word al die snye net dieselfde gebotter, moet jy weet dis hoe daar aandag aan veranderende omstandighede en behoeftes gegee sal word.
"Dan let jy op hoe die smeergoed op die snye kom – dun gesprei, redelik of in oordaad. Te min ken ons almal: dis eintlik net vermorsing. Maak jy die brood net skrik met 'n smeerding, kan jy net sowel hierdie keer se smeergoed gespaar het vir volgende keer en hierdie keer die brood kaal geëet het. Maar pasop, daar is 'n ding soos te veel. 'n Geil broodjie is vir die oomblik hemels, maar geilte het 'n manier om terug te byt soos spyt: altyd te laat. Jy sal gou genoeg besef die smeergoed op jou toebroodjie vertel vir jou hoe oop of toe die smeerder se hand en hart is en hoeveel JY saak maak.
"Gee maar aandag hoe jou toebroodjie gesny en aan jou voorgesit word. Kry jy die twee snye net op mekaar geplak, ongesny; word dit in die helfte gesny, of in kwarte? Is die snitte middeldeur of middeldwars? Word die korsies netjies papierdun afgesny en vir die hond gegee of nie? Is daar 'n groen bokkossie by vir mooigeit? En dan die heel belangrikste: word dit met direkte oogkontak en 'n hartsglimlag vir jou gegee? Hoe jou toebroodjie vir jou afgerond, aangebied en voorgesit word, sal jou 'n kykie gee op die mens se omgang met die lewe, met die self en met jou, asook inherente selfrespek en trots.
"Man, in kort - die maak van 'n toebroodjie vertel vir jou alles van 'n mens se regte mensgeit wanneer daar gedink word niemand kyk nie.
"Maar die eintlike truuk lê daarin om vir jouself 'n toebroodjie te maak en te kyk hoe jy hom gemaak het wanneer jy klaar is. En dan, voor jy vir jou liefie vra om vir JOU 'n toebroodjie te maak, maak JY vir jou liefie een sonder om te dink. En dan, wanneer jy klaar is, kyk hoe jy dit gedoen het. Dit sal vir jou antwoord of jy met daardie mens wil oud word of nie."
"Al die gepratery maak my darem nou so lus vir 'n biltongbroodjie – wat sê jy, kom ons loop kyk hoe maak my vrou 'n toebroodjie, jy sal sommer sien wie vir my geleer het!"