Update
GEORGE NUUS - Groot opgewondenheid heers oor die groot eer wat Minke Janse van Rensburg (13), die ambisieuse swemmer van George te beurt geval het toe sy verlede week die Downsindroom Junior Wêreldrekord in die 50 m-vryslag langbadkategorie gebreek het.
Minke se tyd by die TYR Prestige Gala in Durban is amptelik geregistreer as 40,19 sekondes op Woensdag 11 Julie. Die vorige wêreldrekord is deur die Italiaanse swemmer, Maria Brasciani, opgestel wat dit in 40,92 sekondes afgelê het.
Minke het ook tydens die TYR-byeenkoms die junior Afrika-rekord in die 100 m-vryslag gebreek. Sy was ook die vinnigste in die ope kategorie aflosspan wat 'n nuwe Afrika-rekord in die 200 m-vryslag tydens hierdie prestige byeenkoms opgestel het.
Minke het onlangs tydens afrigting onder die bekwame hand van Sybeth Hughes van Fish Eagle Swemklub 'n onoffisiële 50m-kortbadtyd geswem wat ook beter is as die huidige kortbad wêreldrekord. Sy word sterkte toegewens met haar deelname aan die 9de Downsindroom-wêreldswemkampioenskappe waar sy teen die huidige kortbad rekordhouer gaan meeding. Die kampioenskappe is vanaf 20 tot 25 Julie in Truro in Kanada.
Sy is 'n lid van die Suid-Afrikaanse span wat uit nege lede bestaan en het reeds voor haar vertrek al die 25 m-vryslag onder 19 sekondes geswem. "By die SA kampioenskappe het sy baie na aan die wêreldrekord gekom," sê haar trotse pa Hennie Janse van Rensburg wat haar Dinsdag 17 Julie op die lang vlug na Kanada vergesel het.
Aangesien downsindroom swemmers stadiger as normale swemmers is, het die Van Rensburg gesin eers tydens die nasionale kampioenskap vir intellektueel gestremde persone besef dat sy verbasend goed doen toe Minke vier goue en twee silwermedaljes gewen het en in die nasionale span opgeneem is.
Minke het twee jaar gelede eers begin swem. "Sy het baie vinnig gevorder. "Minke besef nie hoe hard sy oefen nie. Sy oefen omdat dit vir haar lekker is. Sy geniet dit verskriklik baie en daarom verdien haar afrigter erkenning. Minke oefen vier of vyf keer in die week," het haar pa verduidelik.
n In April is die wêreldrekord in die 25-m vryslag deur Lizzie Allen (14) van Brittanje met 0,07 sekondes verbeter by die Europese Downsindroom ope swemkam-pioenskappe. Haar tyd was 19,36 sekondes, volgens die webtuiste van haar swemklub, Electric Eels.
Minke sal in Kanada teen Lizzie deelneem, sê haar pa. Minke is 'n leerling aan die Carpe Diem-skool vir kinders met buitengewone behoeftes in George.
Lees 'n vorige artikel: Minke breek wêreldrekord vir swem
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'