Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Syferfonteiners het tydens die Desembervakansie kliphard gewerk om 'n stuk veld langs die plakkerskamp vir sport in te rig.
Tuisgemaakte rugbypale staan netjies afgewit op 'n lappie ongelyke grond. 'n Groepie jong kinders hardloop vrolik rond met 'n stokou rugbybal.
'n Skaterlagstemmetjie klink helder op en die sweet drup teen hul lyfies af op een van die warmste dae van die jaar, verlede Donderdag.
James Smith, voorsitter van die Syferfontein-komitee, beduie met sy hand bo sy kop presies hoe hoog die gras en bosse gestaan het.
"Ek het die kinders betaal met tjips en koeldrank, en soms 'n geldjie ook, om te kom help kap," het hy gesê.
"Dit het my seker oor 'n duisend rand gekos. Maar kyk nou - kyk net hoe lekker speel hulle.
En dis nie net die kleintjies nie, maar ook die ouer kinders en selfs jong manne wat hier kom balle gooi en skop."
Smith het besluit om self die spreekwoordelike bal aan die rol te sit, nadat sy pleidooi om hulp aan George-munisipaliteit nog nie vrugte afgewerp het nie.
"Ons vra nie baie nie, ons wil net so graag iets vir die kinders gee om hulself mee besig te hou. Hulle beloof om ons te skuif, maar ons gaan nog lank hier wees," het hy gesê.
Die George Herald het baie dekking aan die Syferfontein-behuisingskrisis gegee.
Kyk 'n video hieronder:
In 'n neutedop moet die inwoners skuif omdat die plakkerskamp op 'n vullishoop gebou is.
Die geld vir die skuif was tot dusver 'n probleem. George-munisipaliteit se kommentaar oor die sportveld en 'n opsomming van Syferfonteiners se 2018-pyplyn, word afgewag.
Anele Maye (agter, middel) en Reldrico Pietersen (voor, links) oefen hulle aangee op 'n stuk veld langs Syferfontein-plakkerskamp. Die kinders het saam met die volwassenes help bossies afkap tydens die Desembervakansie, sodat hulle 'n plek het om rugby en sokker te speel.
Ofskoon die sportveld daagliks in gebruik is, hoop Smith dat die munisipaliteit sal kan help om die grond gelyk te maak en bogrond te gee vir grassooie.
"Ons kan alles self onderhou, dis net om alles in plek te kry. Ons is so bang die kinders beseer hulself met die ongelyke grond. Dit is nog vol stokke en gate."
Vir meer inligting kontak Smith by 076 271 2343.
Lees 'n verwante artikel: Dis 'pale toe' vir sportiewes
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'