Update
GEORGE NUUS - Dis nie aldag dat sakeleiers en rugbyspelers in die middel van 'n rugbyveld van 'n groot stadion ontmoet nie. Dit was egter die prentjie verlede Donderdagaand, 24 November, toe lede van die George-sakekamer en spelers van die SWD Arende by die Outeniqua-stadion ontmoet het.
Die geleentheid is onder die vaandel van die George-sakekamer aangebied, met SWD-rugby en Eerste Nasionale Bank as gashere.
Groot opgewondenheid het geheers want daar is nie net gepraat nie. Van die sakeleiers het gewys dat hulle ook oor rugbyvaardighede beskik. 'n Informele kompetisie is gehou waar sakeleiers rugbyballe pale toe kon skop en ook balle in lynstane kon ingooi.
Van die sakeleiers het gewys dat hulle 'n rugbybal net so behendig kan hanteer soos enige saketransaksie.
In 'n stadium het dit liggies begin reën, maar dit het nie die geesdrif van aanwesiges gedemp nie.
Onder die aanwesiges was George-burgemeester, Leon van Wyk, Dirk Kotze, Mosselbaai se burgemeester en verskeie spelers van die SWD Arende. Die verwelkoming is deur dr. Willie Cilliers, voorsitter van die George-sakekamer, gedoen.
Cilliers het gesê die sakegemeenskap, die breë gemeenskap, die munisipaliteit en SWD Rugby kan nie los van mekaar staan nie.
Hy het gewys op die belangrike rol wat SWD Rugby in die streek en in die gemeenskap kan speel.
Cilliers het die hoop uitgespreek dat dit die beginpunt is waar SWD Rugby, die munisipaliteit en die gemeenskap hande vat.
Volgens hom het die gesprekke met SWD Rugby al 'n paar maande gelede begin en is daar gekyk na hoe almal beter kan saamwerk.
Hy het Maandag 'n beroep op inwoners gedoen om te gaan kyk as die Arende speel. "Die gemeenskap wil 'n span sien wat wen. Om dit te kan regkry moet die regte spelers gekry word," het hy gesê.
"Sport is 'n verbindingsmiddel wat die gemeenskap saamsnoer. Ons moet nie die waarde daarvan onderskat nie."
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het gesê dis die begin van iets spesiaal. Dit was 'n geleentheid om met die sakeleiers te gesels en verhoudings te bou. Tydens die geleentheid het hy sy visie vir die Arende uitgespel.
Na die geleentheid het hy aan George Herald gesê die voorseisoen voorbereidings vir die span het reeds begin. Dit sal aanhou tot 15 Desember.
Dit sal weer in Januarie hervat word wanneer die span in 'n paar vriendskaplike wedstryde sal speel wat as opwarming vir die formele seisoen sal dien. Die wedstryde sal gespeel word teen 'n span van die Nelson Mandela Universiteit (NMU), Griekwas en 'n WP-uitnodingsspan.
Die Arende se eerste amptelike wedstryd in die eerste divisie van die Curriebekerreeks is op 11 Februarie.
Brendon Adams, 'n burgemeesterskomiteelid van die George-stadsrada en Bevin Fortuin, oudSpringbok rugbyspeler tydens die geleentheid.
Zane Kirchner, lid van die Arende se afrigtingspan, Janneman Stander, speler van die Arende en Clemen Lewis, lid van die Arende se afrigtingspan tydens die geleentheid.
Van die Arende en en bestuurslede wat die geleentheid bygewoon het.
Foto's: Eugene Gunning
Vorige artikel: Hulle ken ook van rugby
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'