TUINROETE NUUS - Die Hot Summer of Touch (HSOT) se 2021-reeks het dié jaar weereens 'n seisoen aan die Wes-Kaap se sonnige suidkus losgeslaan. Hierdie raakrugbyreeks het verlede week in die Strand afgeskop.
Drie dae voor die groot Kampsbaai-kragmeting het branderplank-foendi en toernooi-omroeper, Deon Bing, vir HSOT-organiseerder Grahame Bobrow na die strand vergesel om die speelarenas af te merk.
Hierdie gebiede word gekies sodat die getye nie spel sal onderbreek nie en voorbereidings word getref sodat alle Covid-19-protokolle nagekom kan word.
Met Sondag se hooggety voorspel vir 10:37, 'n meergladde see en beskermende sandduin, was daar beswaarlik rede tot kommer. Maar 'n verrassing het op die deelnemers gewag. Omstreeks 09:15, kort na die wedstryd begin het, het yslike golwe deur die sandwal begin breek en die speelarea oorstroom.
In 'n ommesientjie is drie speelvlakke met seewater oorstroom. Die besondere situasie het gedien as 'n doeltreffende gelykmaker, aangesien spanne met baie tempo nie hul spoed kon gebruik nie en dus al hul ander vaardighede moes ontgin.
Bobrow prys al die spanne vir kwaliteitspel onder hierdie omstandighede en omdat hulle dit kon regkry om fiksheidsvlakke hoog te hou tydens twee jaar van strawwe Covid-19-inperkings.
Vyf en dertig spanne het vir die Kampsbaai-been van die toernooi geregistreer.
HSOT doen by Kleinmond aan op 16 Desember, Struisbaai op 19 Desember en dan lei alle paaie na die hoofborg se tuisturf toe.
Beplan jou Great Escape to Mossel Bay op 27 Desember (Diazstrand) en 29 Desember (Hartenbos) om te sien wie in die finale wedstryde gaan koningkraai.
Een van die kragmetings van die Hot Summer of Touch (HSOT) se 2021-reeks op Kampsbaai verlede naweek.
Inskrywings
Spanne kan aanlyn by www.touchrugby.co.za inskryf. Indien die dag se volle spankwota nie gevul is nie, sal laat inskrywings vroegoggend (07:15-08:45) van elke speeldag toegelaat word. Bel of WhatsApp die HSOT Blitslyn by 062 770 6818 met navrae.
Skakel 044 691 2202 of besoek www.visitmosselbay.co.za om jou Great Escape te bespreek.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'