Update
GEORGE NUUS - Die Premiersliga-wedstryd tussen die plaaslike rugbyklubs Evergreens en Crusaders, wat verlede week op die nippertjie gekanselleer is weens die toestand van die pawiljoen op Pacaltsdorp-sportterrein, gaan op 21 September by Outeniquapark plaasvind.
Die wedstryd tussen Evergreens en Crusaders is aanvanklik vir verlede Saterdag, 3 September, geskeduleer.
Evergreens het egter verlede Donderdag, twee dae voor die wedstryd sou plaasvind, 'n brief van George-munisipaliteit ontvang waarin die pawiljoen by die sportterrein onveilig verklaar is.
Geen verdere wedstryde mag nou by die Pacaltsdorp-sportterrein plaasvind alvorens die opknappingswerk voltooi is nie.
Die algemene bestuurder van SWD-rugbyvoetbalunie, Veda Manie, het gister, 7 September, bevestig dat 'n nuwe datum vir die wedstryd ontvang is. Op 'n vraag oor die situasie by Pacaltsdorp-sportterrein, het sy gesê dit is buite enigeen se beheer.
"Ons is net bly die wedstryd kan plaasvind."
Granville Campher van die munisipale afdeling sportont-wikkeling het verduidelik dat daar vir 'n bedrag van R1 miljoen begroot is om die pawiljoen se dak te vervang. "'n Strukturele ingenieursfirma is aangestel om die konstruksie van die dak te ondersoek, te ontwerp en toesig te hou," het Campher gesê.
"Die firma het George-munisi-paliteit ingelig dat daar veiligheids-kwessies is rakende die strukturele integriteit van die staaldak van die pawiljoen. 'n Inspeksie is op 1 September gedoen wat deur beamptes van sportontwikkeling, rampbestuur en die betrokke ingenieursfirma bygewoon is om die status te bepaal en moontlikhede te ondersoek om wedstryde by die stadion te laat voortgaan.
"Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat verdere ondersoek nodig sal wees om 'n omvattende veiligheidsplan op te stel en te implementeer, om voorsiening te maak vir die veilige gebruik van die fasiliteit.
"Daar is besluit om toestemming om wedstryde by hierdie fasiliteit aan te bied terug te trek om die veiligheid van die publiek en deelnemers te verseker. Alle pogings word aangewend om die situasie reg te stel en George-munisipaliteit sal alle relevante rolspelers op hoogte hou van vordering."
Vorige artikel: Wedstryd by Pacs-Sportterrein op droë dok oor pawiljoen
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'