GEORGE NUUS - Plaaslike rugbyondersteuners, veral ondersteuners en spelers van Evergreens, ‘n rugbyklub van Pacaltsdorp, is hewig ontsteld nadat dit gisteraand aan die lig gekom het dat geen verdere wedstryde by die Pacaltsdorp-sportterrein mag plaasvind nie.
Die klub sou môre aan ‘n Premierligawedstryd teen Crusaders-rugbyklub by die sportterrein kragte meet.
Luidens ‘n brief van George-munisipaliteit, wat gisteraand deur die klub ontvang is, is die pawiljoen by die sportterrein onveilig verklaar.
Die algemene bestuurder van SWD-rugbyvoetbalunie, Veda Manie, het intussen in ‘n skrywe aan die klubs, die uitvoerende komitee en die SWD-skeidsregtersvereniging ‘n versoek gerig vir alternatiewe datums vir die wedstryd tussen Evergreens en Crusaders.
Manie vra ook dat ‘n voorgestelde datum teen Maandag 5 September, deurgegee word.
Granville Campher van die munisipale afdeling sportontwikkeling het verduidelik dat daar vir ‘n bedrag van R1 miljoen begroot is om die pawiljoen se dak te vervang. “'n Strukturele ingenieursfirma is aangestel om die konstruksie van die dak te ondersoek, te ontwerp en toesig te hou,” het Campher gesê.
“Die firma het George-munisipaliteit ingelig dat daar veiligheidskwessies is rakende die strukturele integriteit van die staaldak van die pawiljoen. ’n Inspeksie is op 1 September gedoen wat deur beamptes van sportontwikkeling, rampbestuur en die betrokke ingenieursfirma bygewoon is om die status te bepaal en moontlikhede te ondersoek om wedstryde by die stadion te laat voortgaan.
“Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat verdere ondersoek nodig sal wees om 'n omvattende veiligheidsplan op te stel en te implementeer, om voorsiening te maak vir die veilige gebruik van die fasiliteit.
"Daar is besluit om toestemming om wedstryde by hierdie fasiliteit aan te bied, terug te trek om die veiligheid van die publiek en deelnemers te verseker. Alle pogings word aangewend om die situasie reg te stel en George-munisipaliteit sal alle relevante rolspelers op hoogte hou van vordering.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'