SUID-KAAP RUGBYNUUS - Die Covid-19-pandemie het rugby in die Suid-Kaap met 'n plettervat van die speelveld af geboender. Alle rugbyaktiwiteite word summier gestop.
Dit volg na 'n skrywe van Hennie Baartman, president van die SWD-rugbyunie, aan al die Suid-Kaapse rugbyklubs en volg op 'n persverklaring deur die Wes-Kaapse premier Alan Winde rondom die Tuinroete se klassifikasie as 'n brandpunt vir die pandemie.
In sy korrespondensie sê Baartman die premier se verklaring het die unie genoop om te herbesin oor die veiligheid en gesondheid van alle belanghebbendes. Daarom is die besluit geneem om alle byeenkomste en aktiwiteite binne die jurisdiksie van die SWD-rugbyunie met onmiddellike effek te staak.
Met spesifieke verwysing na die premier se pleidooi rondom byeenkomste, word die algemene jaarvergadering van die SWD-unie, wat vir 27 November beplan was, onbepaald uitgestel. Baartman sê daar sal gepoog word om die vroegste moontlike veilige datum in 2021 aan te wys as 'n saak van dringendheid.
"Klubs moet kennis neem dat alle oefeninge en vergaderings gestaak moet word tot verdere kennisgewing, selfs klubs wat reeds sertifikate ontvang het om oefeninge te hervat. Hierdie is weereens 'n noodroep aan elkeen om toe te sien dat hulle veilig bly om sodoende hierdie pandemie hok te slaan.
"Die situasie word deurgaans gemonitor en u sal op hoogte gehou word as daar enige verandering is."
Vir meer inligting rondom die Covid-19-pandemie en die verspreiding daarvan in die Wes-Kaap klik hier.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'