GEORGE NUUS - Die Paasnaweek-rugbyfees by Outeniquapark het vanoggend afgeskop met ’n stryd tussen twee Suid-Kaapse bure, Blanco van George en Bridgton van Oudtshoorn, in die skildafdeling van die Ebrahim Patel-toernooi.
Blanco het die eerste helfte oorheers met aanvallende rugby en goeie veldposisie, maar kon nie hul kanse in punte omskep nie.
Swak afrondingswerk het hulle duur te staan gekom, en hoewel hulle rustyd met 5-3 voorgeloop het, kon die voorsprong maklik groter gewees het.
Bridgton het in die eerste helfte gesukkel om ritme te vind. Hulle het hulself onder druk geplaas met onnodige foute, oorhaastige spel en swak besluitneming op kritieke oomblikke.
Die tweede helfte het egter ’n heel ander prentjie geskets.
Bridgton het met hernieude energie en groter akkuraatheid uit die kleedkamer gekom en die wedstryd binne ’n paar minute op sy kop gedraai.
In die 55ste minuut het hul kaptein en flank oor die doellyn gegaan vir ’n belangrike drie wat die momentum laat swaai het. Net twee minute later het Bridgton weer toegeslaan met ’n onderskepdrie wat die telling skielik na 15-5 laat kantel het.
Die druk het voortgeduur en in die 58ste minuut het Bridgton weer gaan druk om hul voorsprong na 22-5 uit te brei – ’n indrukwekkende drie-drie-slag binne drie minute wat Blanco se weerstand gebreek het.
Albei spanne het dissiplineprobleme ervaar, met altesaam vier geelkaarte in die wedstryd, insluitend een vir Bridgton in die tweede helfte.
Die aksie by Outeniquapark duur voort met die plaatfinaal tussen Heidelberg en Kruisfontein, gevolg deur die derdeplek-uitspeelwedstryd tussen Botrivier en PE Harlequins. Die toernooi word afgesluit met die hoofwedstryd tussen Safcol en Robertson.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’