Gallery
GEORGE NUUS - Die 26-jarige André Barnardo, 'n oudleerder van PW Botha-kollege, is verlede Vrydagaand op 'n glansgeleentheid in die George-burgersentrum aangewys as Progress-rugbyklub se sportman van die jaar.
Die lenige, veelsydige voorspeler, wat 'n yster was vir sy span in die vastelos en lynstane, het 'n groot rol gespeel om te sorg dat Progress vanjaar die SWD se Groot Uitdaagbeker omhoog kon hou en gevorder het tot die kwarteindronde van Saru se gewilde Goue Beker-kompetisie.
'n Groot eer het Barnardo ook te beurt geval toe hy die trofee ontvang het vir die spelers se speler van die jaar.
"Dit is vanaand vir my 'n groot voorreg om die toekennings te ontvang. My spanmaats het 'n groot rol gespeel in die suksesse van Progress die seisoen.
"Ons kom reeds 'n langpad saam sedert November 2016 toe ons 'n groot toernooi in Humansdorp gewen het.
Die rede vir ons welslae vanjaar is dat ons as span op en van die veld goed saamgewerk het.
Dissipline is ook vir ons baie belangrik.
Ons droom is om in 2018 weer in die Goue Beker-kompetisie te speel," het Barnardo aan die George Herald gesê.
Die borge, ArcXL Argitekte, RRR, Golden Rewards, Alpha Fires, Moov Trading, Gareth Goldman en Van Rooyen Prokureurs is bedank vir hul ondersteuning.
Die burgemeester, Melvin Naik, en raadslid Mercia Draghoender het ook die geleentheid bygewoon.
Progress se skerpskutter-losskakel, Jade Roelfse, wat vanjaar die voorste puntemaker met die skoen in die Premierliga-kompetisie was, is as die rugbyspeler van die jaar vir die A-span aangewys.
Die flank, Solomon Manxodidi, het die toekenning ontvang as die beste voorspeler en die vlugvoetige binnesenter, Werner Jacobs, as die beste agterspeler van die jaar.
Die spoedvraat, Clint Wagman, het 'n spesiale toekenning ontvang.
Die volgende spelers het ook toekennings ontvang:
B-span:
Beste voorspeler: Justin Levendal; beste agterspeler: Pieter Makellie; beste speler: Valenzo Cornelius.
C-span:
Beste voorspeler: Fadiel Luiters; beste agterspeler: Sylvester Lewis; beste opkomende speler: Devron Lindoor; beste speler: Sylvester Lewis.
Provinsiaal gespeel:
SWD o.20: Justin Levendal, John-Graham Botha en Mikyla Roelfse.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'