GEORGE NUUS - Alle paaie lei komende Saterdag, 12 September, na Outeniquapark wanneer Bridgton en Barbarians sake uitspook om die SWD Superliga A Top-8-titel.
Daar was 'n gejuig Saterdag 5 September op Die Plate in Oudtshoorn nadat al drie spanne van Bridgton met oorwinnings van die veld gestap het.
Die hoogtepunt was die A-span se naelskraapse 42 - 38 oorwinning oor Evergreens van Pacaltsdorp in 'n opwindende kragmeting.
In Mosselbaai het Barbarians ook rede gehad om fees te vier nadat al drie hul spanne Groot-Brakrivier geklop het. Die A-span het 'n spannende wedstryd met 37 - 34 gewen.
Die twee topklubs het reeds in 2005 en 2013 in eindstryde teen mekaar te staan gekom, met Bridgton wat by albei geleenthede as wenners uit die stryd getree het.
Barbarians het dié kompetisie laas in 2010 gewen, en hulle laaste deelname in die eindronde was in 2018. Wie gaan Saterdag koning kraai?
Die hoofwedstryd skop om 17:30 af.
Die hekke by Outeniquapark open reeds om 07:00, met die onderste agt spanne op die Eersteliga A-punteleer wat deur die loop van die dag in aksie sal wees.
Eddie Myners
Naz Cupido
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’