TUINROETE NUUS - 'n Inwoner van Herold, Graeme Lindner, het met 'n boog en toerusting wat hy self ontwerp en vervaardig het, 'n besondere prestasie in 'n internasionale boogskietkompetisie behaal.
Lindner het tydens die African Continental Championship vir boogskiet wat van 4 tot 9 November in Pretoria gehou is, algeheel sewende geëindig in die individuele kompetisie.
Dit was die 12e keer dat die kompetisie gehou is en het by die sportterrein van die Universiteit van Pretoria plaasgevind.
Die span waarvan hy lid was, het 'n goue medalje in die eindronde teen Egipte gewen.
Verskeie ander lande soos Algerië, Chad, Côte d'Ivoire, Comoros, Egipte, Kenia, Libië, Mauritius, Namibië, Nigerië en Soedan het saam met Suid-Afrika deelgeneem. Lindner beklee op die oomblik die 176ste posisie in die wêreld in die sport.
Dis 'n lang pad wat hy met die sport geloop het en hy het 22 jaar gelede die eerste keer daarby betrokke geraak.
Alles het begin toe hy na 'n rolprent, Robin Hood Prince of Thieves gekyk het. Hy het toe besluit hy wil by die sport betrokke raak. Aanvanklik het hy sommer op sy eie geskiet en in 2008 het hy mededingend begin deelneem.
Lindner, 'n meganiese ingenieur van beroep, het in sy finale studiejaar in 2009 aan die Universiteit van Pretoria, as deel van 'n projek 'n boog ontwerp. Daarna het hy verskeie boeë ontwerp.
In 2012 het hy aan sy eerste internasionale kompetisie in Marokko deelgeneem. In 2013 is hy getroud en in die jare daarna het hy nie meer mededingend aan die sport deelgeneem nie.
Aan die begin van die jaar (2022) het hy weer mededingend begin deelneem.
Op die oomblik het hy 'n maatskappy, Gray Archery wat hul eie boeë ontwerp en vervaardig. Die maatskappy is in Herold gesetel.
Sover bekend is die maatskappy die enigste maatskappy in die Suidelike Halfrond wat Olimpiese boeë ontwerp en vervaardig. Dit is die enigste in Afrika en Suid-Afrika.
Volgens hom is van die groot vereistes om suksesvol in boogskiet te wees geduld en tyd. Dis amper soos gholf. Hy geniet deelname aan die sport en om self die toerusting te ontwerp en te vervaardig.
Een van die groot uitdagings vir deelnemers is dat die toerusting oorwegend uit die buiteland ingevoer word.
Die sport is besig om in gewildheid in Suid-Afrika toe te neem. In Amerika is dit reeds 'n baie groot sport.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'