SKOPBOKS NUUS - Vyf jong skopboksers van die Suid-Kaap, waaronder twee uitblinkers van Scorpions Martial Arts Academy in George, het die 2022 WAKO (World Association of Kickboxing Organisations) se Wêreldkampioenskap vir kinders, kadette en juniors in Jesolo, Italië, bygewoon.
Die geleentheid het van 30 September tot 9 Oktober plaasgevind.
Waldimar Valentyn (13) en Emma-Jané Grobbelaar (11), beide leerders van Laerskool George-Suid, het gevorder tot by die kwarteindronde. Waldimar is na die toernooi internasionaal vyfde geplaas in die o.15-kategorie vir point fighting, light contact en kick light.
Emma-Jané het aan die point fighting o.12 deelgeneem. Sy is na die toernooi sewende op die internasionale ranglys geplaas. Emma wen 'n bronsmedalje vir Suid-Afrika, as deel van haar span wat aan 'n spanitem deelgeneem het.
"As afrigter is ek baie trots op ons twee skopboksers van George wat op hierdie vlak kon deelneem," het Sors Grobbelaar gesê.
"Hulle het die wêreld se ondervinding gewen en dit is van onskatbare waarde. Hulle deursettingsvermoë, dissipline en karakter maak my so trots. Hulle het hul beste gegee. In ons sport verloor jy nooit nie, jy wen of jy leer 'n les. Ons het verskriklik baie lesse geleer. Ons is so dankbaar vir die borge wat gehelp het om dit moontlik te maak."
Van links is Waldimar Valentyn, Gerald Bleeker (ouer en afrigter), Eden Bleeker, Lisa Bleeker (Eden se ma), Emma-Jané Grobbelaar en Sors Grobbelaar (ouer en afrigter).
Die ander leerders van die Suid-Kaap is Audan Olivier (18) en Anando Olivier (15) van Oudtshoorn (Grebe's-skopboksklub), en Eden Bleeker (13) van Plettenbergbaai (Sport Kickboxing Academy).
Audan het aan die o.18 point fighting deelgeneem en is aan die einde van die toernooi sewende op die internasionale ranglys geplaas. Anando het deelgeneem aan die items point fighting en light contact vir o.15, en neem 'n vierde internasionale plek in na die toernooi.
Hy ontvang ook die Oudtshoorn-burgemeester se sporttoekenning vir junior sportman van die jaar vir 2022.
Emma-Jané Grobbelaar (11) in aksie.
Emma-Jané (links) en haar span (twee van Gauteng en een van Kaapstad), saam met die president van WAKO SA en Afrika, Aslam Mahomed, en die president van WAKO Internasionaal, Roy Baker, kort nadat hulle 'n bronstoekenning ontvang het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'