GEORGE NUUS - Drie plaaslike skopboksers se drome om in Julie in Orlando, Amerika, aan die ISKA Wêreld-gevegkunskampioenskappe te gaan deelneem, hang in die weegskaal weens 'n gebrek aan geld.
Kry dié drie nie voor Junie die verlangde R35 000 elk bymekaar nie, gaan hulle met Jan Tuisbly se karretjie moet vrede maak.
Die alombekende en gewilde gevegkunsafrigter, Phil Anderson, wat die drie manne weekliks onder hande neem, sê die kans om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem, is 'n avontuur wat nie in geldwaarde gemeet kan word nie.
"Dis 'n lewenservaring wat elkeen wat al die voorreg gehad het om na die byeenkoms te gaan, vir die res van hul lewe sal bybly. Maar 'n gebrek aan geld kan hul drome aan skerwe laat spat.
Dis hartseer en maak mens moedeloos dat opkomende talent aan só 'n hartverskeurende situasie blootgestel moet word."
Phil is aangestel as nasionale afrigter van die Protea-span van 103 wat in Orlando teen 4 500 skopboksers van 65 lande gaan deelneem.
Dis die elfde agtereenvolgende jaar wat die SWD lede vir die SA span oplewer en wys dat dié gevegskuns in die Suid-Kaap gesond is en jaarliks groei, sê Phil.
"Wat die probleem verger, is dat skopboks in Suid-Afrika hoegenaamd geen ondersteuning van die regering, SASKOK of selfs die nasionale lotery af ontvang nie. "Dis net die grotes soos rugby, krieket en sokker wat gehelp word, maar skopboks word as't ware weggeskop."
Die drie skopboksers, Aiden Armstrong, Christiaan van der Westhuizen, wat beide vir die Presidentspan gekies is, en Brenton Booysen, wat die SA Ontwikkelingspan verteenwoordig, moet nou met die hoed in die hand in George rondstap om vir bydraes te bedel.
Dis 'n opdraande stryd, sê Phil, want George se sakelui word oorval met dergelike versoeke om geldelike ondersteuning. Maar wat is die oplossing?"
Mens kan net 'n beroep op Georgiete doen om hul harte en beursies oop te maak om die drie te help om 'n lewensideaal te verwesenlik. "Enige bydrae, hoe gering ook al, is 'n treetjie nader aan Orlando."
Sakelui, borge en inwoners wat graag 'n bydrae wil maak, kan gerus vir RP van der Westhuizen bel by 071 481 3275 of vir Phil by 072 385 0581 vir verdere besonderhede.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'