SPORT NUUS - George se Danie Barnard het op Saterdag 9 Mei sy naam stewig in die rekordboeke geskryf toe hy tydens die SA Ope en die gesogte Top-50-toernooi in Joubertina as Suid-Afrika se top-veldskietskut gekroon is.
Die elite-kompetisie, aangebied deur die Suid-Afrikaanse Jaggeweerskiet-vereniging (SAHRSA), het die land se beste skuts byeengebring vir 'n dag van uiterste konsentrasie, tegniese presisie en ystersterk senuwees.
Die verrigtinge het reeds om 08:00 afgeskop met 'n formele inligtingsessie, waarna deelnemers na hul onderskeie skietpunte beweeg het.
Tydens die oggendsessie moes skuts in die SA Ope ses uitdagende bane van vyf skote elk voltooi, 'n toets wat akkuraatheid en konsekwentheid tot die uiterste beproef het.
Ná 'n kort middagete het die druk verder toegeneem toe die Top-50-ronde begin het, waar slegs die land se beste veldskietskuts teen mekaar meegeding het oor nóg ses bane.
Die kies van die nasionale spanne is 'n strawwe proses wat bepaal word deur 'n deeglike berekening van die jaar se ligapunte, die SA Ope tellings en die uitslae van die Top-50-toernooi.
Barnard het deurgaans skitterende vorm getoon en is amptelik tot die nasionale span verkies.
Hy het egter nog een stap verder gegaan deur die algehele eerste plek in die nasionale span in te neem, 'n prestasie wat hom tans die beste veldskietskut in Suid-Afrika maak.
Danie Barnard (regs) ontvang sy toekennings vir onder meer die beste veldskietskut in Suid-Afrika.
Ten spyte van gure weersomstandighede en logistieke uitdagings, het veldskietskuts van reg oor Suid-Afrika byeengekom vir die gesogte toernooi in die Oos-Kaap. Die aanloop tot die kompetisie is gekenmerk deur swaar reënval, verspoelde paaie en sterk winde.
Baie deelnemers moes ompaaie ry en verskeie hindernisse oorkom om die venue te bereik, maar die uitdagende weer kon nie die skuts se geesdrif demp nie.
Barnard se puik vertoning onder strawwe kompetisie het uiteindelik verseker dat hy met die hoogste eer in Suid-Afrikaanse veldskiet kon wegstap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’