GEORGE NUUS - Die DMF-skopboksklub in George het behoorlik stof opgeskop in die oë van die ander deelnemers by die Suid-Afrikaanse skopbokskampioenskappe.
Sewe van DMF se 14 skopboksers, wat by die SA's in aksie was, het SA kampioene opgelewer.
Hulle is Zayne Slinger en AJ van der Merwe, wat albei drie eerste plekke behaal het, Kyle Peterson en Le Roux Nieuwoudt, met albei twee eerste plekke, en Denroy Wesso, Louis Hosea van Wyk en Michael Poolman, elkeen met 'n eerste plek.
Die klub se ander presteerders was Dylon en Robert Peterson (elkeen 'n tweede en derde plek) en Chayse Norris en Amy de Paiva (elkeen 'n derde plek).
Om die kroon te span is die klub se beamptevloer as die beste by die SA's aangewys.
Sensei Natasha Wagenaar was in haar noppies oor DMF se puik vertoning.
Die SA keurders gaan binnekort aankondig wie genooi gaan word om SA by die Wêreldbeker-kampioenskappe in Bosnië in September/Oktober vanjaar te verteenwoordig. Kanse dat DMF 'n paar lede vir die nasionale span gaan oplewer, is baie goed.
Die volgende groot skopbokstoernooi - die South Coast Challenge - is op 1 Junie in die George-stadsaal.
Toegang is gratis vir die publiek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'