Gallery
GEORGE NEWS - George het Saterdag vir Dysselsdorp in die kwarteindronde van die SWD T-20 kompetisie met 82 lopies oorrompel.
Die wenspan speel nou Saterdag in die halfeindstryd op die Rec in Oudtshoorn teen NMU George, wat Sondag vir Pirates United op Loeriepark Knysna met sewe paaltjies geklop het.
Dysselsdorp het die loot gewen en George ingestuur om eerste te kolf.
Die besluit van die besoekers het definitief nie vrugte afgewerp nie.
Jaco Janse van Rensburg (66: 56b, 7x4, 2x6) en Wessel Hartlief (34: 25b, 5x4) se kolwe het die praatwerk gedoen en George in staat gestel om 148 lopies in hul 20 boulbeurte op te stapel.
Llewellyn Gelant (3/10) in 2 boulbeurte was die besoekers se beste bouler.
Dysselsdorp is beperk tot (66/7) in hul 20 beurte danksy skitterende boulwerk deur die draaibouler, Grant Simpson (5/20) in 4 beurte. Janse van Rensburg en Simpson is vir hul individuele vertonings met die kolf en die bal gesamentlik aangewys as speler van die wedstryd.
"Ek is baie in my noppies met my span se vertoning.
"Ons het 'n hele paar ervare spelers in ons groep bygekry en sien baie uit na die halfeindstryd," het Arie van Dolderen, voorsitter van George, aan die George Herald gesê.
Lees 'n vorige artikel: George krieketspan oorrompel Dysselsdorp
ARTIKEL: ANDRÉ STANDER, GEORGE HERALD KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'