Gallery
GEORGE NUUS - 'n Groep van 220 dapper stappers het vroeg Sondag 24 Oktober aan 'n staptog ten bate van kanker deelgeneem. Hulle het by die verre noordelike deel van die Nelson Mandela Universiteit, George-kampus, bymekaargekom en die 5 km na Tierkop-hut aangedurf.
Die stappers, waarvan baie pienk gedra het, het na 08:00 begin stap.
Dit was deel van Pink Trees for Pauline-bewusmakingsveldtog oor die gevare van kanker en om fondse in te samel vir die stryd teen kanker.
Dit is gereël deur Caren Botha en Monique Moolman van Core Strength Pilates Studio en was die derde keer dat dit aangebied is.
Core Strength Pilates Studio is ook betrokke by nog 'n projek, Koppie vir Kansa, wat in Maart plaasgevind het.
LEES MEER: Stap vir 'n goeie doel
Adri van Nieuwenhuizen, besturende direkteur van Pink Trees for Pauline, het Maandag gesê dit was 'n groot sukses. "Dit het alle verwagtinge oortref. Ons is baie geseënd en dankbaar."
Die plan is om dit weer aanstaande jaar aan te bied en dan ook die skole te betrek.
Die organisasie is aanstaande jaar 10 jaar en groot dinge word beplan. Die plan is onder meer om 'n stuk pienk materiaal aan elke boom in George te kry.
Botha, eienaar van Core Strength Pilates Studio, het gesê die projek het gegroei en dit is 'n fantastiese sukses. Toe dit die eerste keer aangebied is, was daar 80 stappers. Nou is daar al 220 deelnemers.
Fotogalery: Staptog vir Pink Trees
'n Beduidende bedrag geld is Sondag ingesamel. Sy het almal bedank wat by die projek betrokke was.
Dit sluit in Nelson Mandela Universiteit plaaslik, wat hul kampus beskikbaar gestel het, die musikante, Jo-ané Paulsen (kitaar), Kalene Roux (fluit), Sugarbird Coffee vir die koffie en CapeNature vir die stap.
Van die dapper stappers wat vroeg Sondag 24 Oktober aan 'n staptog ten bate van kanker deelgeneem het. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'