SKOLESPORT - Hoërskool Outeniqua se atlete het gedurende die 2026-seisoen hul staal behoorlik gewys met medaljes en uitstaande prestasies op provinsiale, nasionale én internasionale vlak.
Van die grootste uitblinkers was Jayden Fourie (gr. 11), wat goud by die Afrika-spele gewen het in die 200 m met 'n rekordtyd van 20.88 sekondes, asook in verspring. Hy het verder silwer verower saam met die 4x100 m-aflosspan by die African Youth Games.
Jayden het ook geskiedenis gemaak as die eerste 17-jarige seun in Afrika wat in een seisoen verder as 7.65 m verspring, 100 m onder 10.40 sekondes en die 200 m onder 21 sekondes hardloop.
Tatyana Viljoen (gr. 10) het goud by ASA klubs in paalspring vir meisies o. 18 gewen, terwyl Walter van Rensburg (gr. 12) 'n uitstekende seisoen beleef het met bronsmedaljes by ASA klubs en ASA seniors in gewigstoot, asook goud by SA skole vir seuns o. 19.
Megan Botha (gr. 8) het silwer in die 200 m vir meisies o. 15 by SA skole gewen en was deel van die goue 4x100 m-aflosspan.
Megan Botha
Nog medaljewenners sluit in James Hewitt (gr. 9), wat brons in driesprong by ASA klubs gewen het, Aquila Julies (gr. 9) met silwer in die 400 m by ASA klubs, en Marco Lesch (gr. 11) wat silwer in die 400 m-hekkies by SA skole verower het.
Keenan Nathan (gr. 12) het by SA skole brons in die 200 m en silwer in die 100 m gewen, terwyl Ray-Jordan Schoeman (gr. 11) drie silwermedaljes by SA skole ingeoes het in die 400 m-hekkies, Sweedse aflos en 4x100 m-aflos.
Marco Lesch
Kwagga-atlete om dop te hou
Outeniqua beskik egter ook oor 'n sterk groep jong atlete wat reeds besig is om aandag in die atletiekwêreld te trek.
"Tydens die Wes-Kaapse kampioenskappe in Maart het verskeie atlete uitstekende prestasies gelewer en hul name as opkomende sterre begin vestig," vertel atletiekhoof, Jacques Wolfaard.
Sammy de Kock (gr. 9) het beïndruk in die 300 m-hekkies en 400 m met sterk vertonings wat groot potensiaal vir die toekoms toon.
Megan Stahmer (gr. 10) het uitstekende prestasies in die 200 m en 400 m gelewer, terwyl Alexa Stahmer (gr. 8) ook in dié items uitgeblink het en as een van die skool se opkomende sterre beskou word.
Gerhan Pretorius (gr. 10) het silwer in die 110 m-hekkies by die Wes-Kaapse kampioenskappe gewen en sterk meegeding by die ASA jeugbyeenkoms teen ouer atlete. Hoewel 'n besering hom van deelname aan SA skole weerhou het, is hy tans onder die topdrie in Suid-Afrika in sy ouderdomsgroep.
Alexa Stahmer
Sammy de Kock
Leané Koen (gr. 9) het goud in diskus by die Wes-Kaapse kampioenskappe gewen en twee vierde plekke by ASA klubs in diskus en spiesgooi behaal.
Maria Wolfaardt (gr. 9) het uitgeblink in hamergooi en gewig-stoot vir meisies o. 16 en meer as 850 punte op die Versus-tabelle in beide items aangeteken. Sy het silwer in hamergooi by Wes-Kaap gewen.
Dean MacDonald, wat eers vanjaar met hamergooi begin het, het reeds 'n Wes-Kaapse silwer-medalje vir seuns o. 14 verower.
Jac du Plessis (gr. 11) het homself as die streek se top o. 17 800 m-atleet gevestig en silwer by die Wes-Kaapse kampioenskappe gewen, terwyl JD van Wyk (gr. 11) die diskus verder as 50 m gegooi het en ook silwer by Wes-Kaap verower het.
Aquila Julies
James Hewitt
Miike Scholtz (gr. 11) het haar veelsydigheid bewys deur in diskus, gewigstoot en hamergooi telkens meer as 850 punte te behaal en brons by die Wes-Kaapse kampioenskappe te wen.
Inge Robertson (gr. 11) het verder in hoogspring uitgeblink met 'n beste hoogte van 1.70 m vir meisies o. 17, wat haar onder die beste in die land plaas, terwyl Hayley Walters (gr. 9) in die 300 m-hekkies vir meisies o. 15 sterk genoeg presteer het om vir ASA klubs te kwalifiseer.
Ray-Jordan Schoeman
Keenan Nathan
Walter van Rensburg
Tatyana Viljoen saam met 'n span-bestuurder, Jonathan Hartnick.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’