GEORGE ATLETIEK NUUS - “Elroy het uitstekend gedoen.” So het Shireen Noble, visepresident van AtletieK Suid-Afrika en president van SWD Atletiek, kort gelede gesê.
Sy het kommentaar gelewer oor Elroy Gelant (34) se deelname aan die marathon by die Olimpiese Spele in Japan wat vandag (8 Augustus) plaasgevind het.
Dit is vandag die laaste dag van die Olimpiese Spele. Die wedloop is vroeg vanoggend Japan se tyd en middernag Suid-Afrikaanse tyd, gehardloop.
Gelant het 34ste klaar gemaak uit ‘n totaal van 106 deelnemers. Hy was een van drie Suid-Afrikaners wat deelgeneem het en die enigste Suid-Afrikaner wat die wedloop voltooi het. Sy tyd was 2.16.43 (Twee ure, 16 minute en 43 sekondes.)
LEES MEER: Elroy reg vir maraton
Gelant kom oorspronklik van Pacaltsdorp en was op skool by Pacaltsdorp Primêr en later Hoërskool Outeniqua. Sy ouers, Steven en Yvonne Gelant, woon steeds in Pacaltsdorp. Hy woon en werk deesdae in Potchefstroom.
Noble het gesê die weersomstandighede waartydens die wedloop gehardloop is, moet in gedagte gehou word. Die humiditeit was hoog. Sy het bygevoeg: “George en Pacaltsdorp is steeds trots op Elroy. Om bloot daar aan die Olimpiese Spele te gaan deelneem, is al klaar ‘n groot prestasie.”
LEES MEER: SA's Olympic medal chances drying up, but there's still hope
Sy dink nie dit is neusie verby vir hom nie. Dit is moontlik dat hy weer sal kan deelneem aan die Olimpiese Spele in 2024 in Parys Frankryk.
“Elrpoy is ‘n baie gedissiplineerde mens en het sterk doelwitte.”
Dit was nie die eerste keer dat hy aan die Olimpiese Spele deelgeneem het. Hy het reeds in 2016 aan die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro deelgeneem. Hy het die eindronde van die 5 000 m gehaal en teen die destydse groot name in die afdeling meegeding.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'