GEORGE NUUS - Inwoners van George en Suid-Afrikaners hou styf duim vas vir Elroy Gelant (34), wat Suid-Afrika Sondag 8 Augustus in die maraton vir mans by die Olimpiese Spele in Tokio, Japan verteenwoordig.
Gelant kom oorspronklik van Pacaltsdorp en was op skool by Pacaltsdorp Primêr en later Hoërskool Outeniqua. Sy ouers, Steven en Yvonne Gelant, woon steeds in Pacaltsdorp. Hy woon en werk deesdae in Potchefstroom.
Die maraton vir mans is tradisioneel die afsluiting van die mededingende items by die Olimpiese Spele. Gelant sal Sondag om 07:00 Japanse tyd en middernag Suid-Afrikaanse tyd, aantree vir die uitmergelende wedloop.
Hy het vanoggend, 6 Augustus, minder as 48 uur voor die wedloop, aan George Herald gesê die tyd raak nou min.
“Ek sien baie uit na die wedloop. Dit gaan ‘n groot uitdaging wees as gevolg van die humiditeit en die hitte.”
Hy het goed voorberei vir die omstandighede en sal strategies moet dink hoe hy die wedloop gaan benader.
Gelant kan nie meer wag nie. In die stadium is hy besig met finale afrondings.
Hy het baie boodskappe van mense uit George ontvang en hy is baie dankbaar daarvoor.
Die Olimpies Spele is nie vreemd vir Gelant nie. Hy het reeds in 2016 aan die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro deelgeneem. Hy het die eindronde van die 5 000 m gehaal en teen die destydse groot name in die afdeling meegeding.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'