OPINIE - Met die totstandkoming van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) ná Suid-Afrika se sewende algemene demokratiese verkiesing op 29 Mei 2024, het veral die nuwe ministers vanuit ander politieke partye die kollig sterk op hulself laat skyn terwyl dit wil voorkom of van die ANC-ministers ook begin aansteek het en daar met ywer ook uit dié geledere aandag aan probleem-areas gegee word.
Die minister, wat egter in dié stadium met die beker sal wegloop as die een wat nie net die sigbaarste is nie maar ook die hardste in die skrum druk, is die charismatiese Gayton McKenzie, leier van die Patriotic Alliance (PA) en nuut-aangestelde minister van sport, kuns en kultuur.
Sy portefeulje dek 'n wye veld en soos Siya Kolisi met sy Springbok-leierskap op die rugbyveld besig is om in statuur te groei, is McKenzie besig om dieselfde te vermag in die politieke arena.
Dr Leon Schreiber (minister van binnelandse sake) van die Demokratiese Alliansie (DA) en dr Pieter Groenewald (minister van korrektiewe dienste), leier van die Vryheidfront Plus (VF Plus), is self besig om hul stemme dik te maak en dis duidelik dat daar in hul onderskeie portefeuljes hard gewerk word om groot agterstande te probeer uitwis.
Vanuit ANC-geledere moet die name van Parks Tau (minister van handel, nywerheid en mededinging) en in 'n mindere mate Senchu Mchunu (minister van polisie) beslis genoem word.
Van al die ANC-ministers moet 'n mens waarskynlik vir Mchunu die jammerste voel. Die nalatenskap wat hy van sy voorganger, Bheki Cele, geërf het, sal enigiemand twee keer laat dink het voor hy/sy dié pos sou aanvaar.
Met misdaadvlakke steeds heeltemal buite beheer, is dié voormalige minister van water en sanitasie se paadjie vol duwweltjies besaai. Baie planne sal gemaak moet word om die misdaad-skip om te draai, maar Mchunu lyk of hy daadwerklike veranderings wil teweeg bring tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.
En daarvoor moet 'n mens die hoed vir hom hoog lig en hopenlik sal Cele ook een van sy vele Fedora's lig om sy ondersteuning te gee in 'n portefeulje waarin hy jammerlik gefaal het.
Nog 'n ANC-minister wat genoem móét word, maar waaroor 'n mens eintlik moet stilbly omdat 'n mens die situasie nie wil jinx nie, is dr Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit.
Beurtkrag is vir die afgelope klompie maande net 'n nare herinnering en hoe minder daaroor gesê word, hoe beter. Kollektief wil almal graag die ligte aanhou en Ramokgopa het baie daarmee te doen.
McKenzie, egter, het hom reeds op verskeie gebiede onderskei. Wat egter soos 'n paal bo water staan is die feit dat hy die indruk wek dat hy geniet wat hy doen. Hy is ook nie bang om in bekgevegte betrokke te raak wanneer hy, tot in dié stadium, onnodiglik en uit pas gekritiseer word nie. Iets waarvan Julius Malema, leier van die Economic Freedom Fighters (EFF) en van sý volgelinge duidelik sal van kan getuig.
Ofskoon dit 'n groot gestoeiery afgegee het om die RNE-regering uiteindelik saam te stel, behoort die president, Cyril Ramaphosa, heel tevrede te voel oor die stand van sake en die vertonings van die ministers van ander partye in sý kabinet. Moet geen fout maak nie.
Daar is reeds voetfoute begaan soos met John Steenhuisen, leier van die DA en die huidige minister van landbou, se aanstelling van sy stafhoof, die uitgesproke Roman Cabanac. Maar selfs Steenhuisen is ook besig om op verskeie gebiede die skaal in sy guns te laat swaai.
Waar daar tevore vanuit DA-geledere onwrikbare teenkanting was met die verhouding tussen Suid-Afrika en China, het 'n onlangse besoek saam met Ramaphosa aan China waarskynlik sy houding effens laat verander terwyl twee belangrike ooreenkomste met sy Chinese eweknie groot voordeel vir Suid-Afrikaanse landbou die gevolg was.
Steenhuisen se partygenoot Dean McPherson, minister van openbare werke, het dié twee vergesel en ook hý sou met ander insigte teruggekeer het. McPherson het self soos 'n volbloed-resiesperd uit die hokke weggespring met die aanvang van sy termyn, maar soos Mchunu het hy 'n taamlike stewige spyskaart wat op hom wag as hy die konstruksie mafia se voetspoor merkbaar wil verklein.
Alles is egter nie maanskyn en rosegeur nie. En dit was duidelik met Ramaphosa se ondertekening van die Bela-wetgewing verlede week. Sprake van die ontbinding van die RNE juis as gevolg hiervan, het Ramaphosa duidelik ontstel.
Samesprekings met verskillende rolspelers vóór die ondertekening waaronder burgerregtegroepe soos Solidariteit en AfriForum, het egter daartoe gelei dat verdere samesprekings ten opsigte van sekere klousules gevoer sal word om antwoorde op probleem-areas te vind.
Dat 'n nuwe daeraad met die totstandkoming van die RNE gevind is, is nie te betwyfel nie. Daar sal nog baie grondpad geloop word, maar die fondamente is gelê en ofskoon nog wankelrig, lyk die toekoms vir die herstel én die vooruitsigte van 'n ware reënboognasie soos dit veronderstel is om te wees, of dit perdalks 'n werklikheid kan word.
Dié rubriekskrywer se menings word nie noodwendig deur Mossel Bay Advertiser onderskryf nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’