BLOG - Juffrou Zydia het vir weke elke middag van die week vir my kom skool gee toe ek in die hospitaal was. En toe ek die volgende kwartaal teruggaan skool toe, was ek nie eers agter met my werk nie.
Een middag, 56 jaar gelede, daag juffrou Zydia by ons huis op. Ek is in st. 1 en baie lief vir haar, maar my senuwees pak amper op toe sy by ons huis opdaag.
Ek moet koeldrank bring, sê ma, en sy en Juffrou Zydia praat ernstig in die sitkamer. En toe juffrou later loop, kom sy na my toe en gee my 'n groot druk.
Mamma roep my stoepie toe, en terwyl ons daar sit, vra sy my of ek sukkel om te sien.
En ek moet dink, want ek kon nog altyd planne maak, en ek weet ek het toe ook planne gemaak. Mamma sê ek moet my skooltas bring, en my leesboek lees, maar eintlik het ek lankal die storie uit my kop geleer, en ek lees die blaaie vir haar, blitsvinnig.
Toe sê sy ek moet by die tafel gaan sit en vir haar 'n mooi prent van ons huis teken. Ek teken die mooiste huis, net soos by die skool, maar kort-kort steek die kryt in my oog, want ek sit met my kop so naby die papier om mooi te kan sien.
Mamma maak 'n afspraak, en ons gaan na Bergman Oogkundiges en ek onthou hoe ek vreesbevange na die tannie by die toonbank gekyk het, en gewonder het hoe op dees aarde sy deur haar dik brilglase kan sien, want haar oë lyk of dit teen die lense vassit. En daar kry ek my eerste bril, met 'n skilpaddopraam, en by die skool gee die seuns my 'n bynaam, "Brilletjies".
Vir 56 jaar is dit my redding, die rame kom en gaan, en op 'n stadium het ek ook kontaklense probeer, maar met sensitiewe oë en 'n stofpad, kom kontaklense nie ver nie. My bril is die eerste wat ek aantrek soggens en laaste wat ek uittrek saans.
Sedert die Covid-pandemie het die wêreld om my egter dof geraak, en daar was nie meer planne by dierbare Jack nie, want hy kyk en hy sê, nee kom ons kyk of daar nie ander planne as nuwe brillense is nie.
Ek kon nog altyd die lewe in volkleur sien, tuine, die veld, die bloue-blou lug, onweerswolke, mooi materiaal en as ek skilder, skilder ek met die helderste kleure, maar soos die weke maande word, sien ek net vaal.
'n Besoek aan die oftalmoloog bevestig my vrese. Ek moet vroeg Januarie daar wees, en daar sal 'n plan gemaak word.
En skielik is daar lig … ek sien nou eers hoe helder my verf op my skilderye regtig was, heeltemal té erg. En die wêreld, hoewel dit nou dor en kaal is, is gevul met die mooiste skakerings, skadu's en lig. Ek kan lees, ek kan regtig lees.
Ek hoef nie op my selfoon te vra vir hulp om 'n Bybelvers te lees nie. Ek kan 'n hoofstuk lees. Ek kyk in die spieël en skrik vir die plooie, en hulle word ook nou nie meer weggesteek agter lense nie. En glo my, my lense was baie dikker as die tannie se bottelglaslense destyds, maar moderne tegnologie het gehelp dat ek lense vir my bril kon kry wat nog steeds lig en dun was.
Ek kan nie wag om weer te bestuur nie, en ek wil by winkels ingaan en die pryse op die artikels gaan lees, en nie maar net blindelings in die trollie laai nie. Ek wil op die kaasworsies lees wat regtig daarin is, en nie weer met chilliworsies by die huis kom nie.
Ek kan na 56 jaar regtig sien. Ek koester elke oomblik. Ek kyk net na die mooi! Wat 'n voorreg.
Lees nog blogs hier.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’