Gallery
GEORGE RUGBYNUUS - Progress het Saterdagmiddag voor sowat 4 000 entoesiastiese toeskouers op die Rosemoor-sportterrein getoon dat hulle oor genoeg skietgoed beskik om op Saterdagmiddag 1 September vir die tweede jaar agtereenvolgens die SWD Grootuitdaagbeker op Outeniquapark omhoog te hou.
Progress het vier drieë gedruk in hul oorwinning van 29-22 oor die bulspan van Evergreens. Rustyd was die wenspan reeds met 17-7 voor.
Progress is die voorloper op die punteleer met 60 punte. Vir Evergreens, tans sesde op die punteleer met 39 punte, wag daar nog harde werk om die uitspeelrondes op Saterdagmiddag 18 Augustus te haal.
Vir Progress was Cameron Lentoor (heelagter) en Fizel Fredericks (linkervleuel), ongetwyfeld hul beste spelers op die veld.
Lentoor, wat verlede seisoen nog vir Swallows in Oos-Londen uitgedraf het, is in die 10de minuut van die wedstryd oor vir sy eerste drie wat hy binne sy eie gebied begin het. In die 70ste minuut is hy oor vir sy tweede drie na 'n slim skoppie deur Luzane Williams (losskakel).
Fredericks, se spoed was net te veel vir Evergreens en het in die 50ste minuut in die hoekie oorgegaan nadat Cameron sterk gehardloop het.
Mzo Dyantyi (skrumskakel), het met slim skoppies baie druk op die besoekers geplaas. Hul senterpaar, Carlton-Dee Coeries en Ethan Williams, asook Clinton Wagman (regtervleuel), het ook die oog gevang.
Voorlangs het Gaywon Smith (slot), Bredni Bestenbier (vaskopstut), en die lostrio, Shaun Raubenheimer, Christo du Plessis en Wendell Pondo, die vonk verskaf.
Evergreens se beste speler was hul regtervleuel, Nathan Beukman, wat in die 38ste en 76ste minute oor is vir drieë. Anvor Prins (loskopstut) is net na rustyd oor na 'n puik breekslag deur Daylin Moos (skrumskakel). C-Than Moos (losskakel), slaag ook met twee doelskoppe en 'n strafdoel.
Luciano Jones (heelagter), Moos, die lostrio, Gerschwin Muller, Francois Kemp en Buran Parks, Llewellyn Treurnicht (slot en kaptein) en Anvor Prins (loskopstut), het uitgeblink vir die besoekers.
Christo du Plessis het in die 2de minuut die eerste drie aangeteken. Fizell slaag ook met drie doelskoppe en 'n strafdoel.
Crusaders het teen Barbarians op die Parkdene-sportterrein hulle reputasie as terugvegkonings gestand gedoen. In die eerste helfte het die tuisspan met rukke en stote gespeel en verskeie geleenthede om punte aan te teken weggegooi.
Barbarians het met kliniese teenaanvalle drie drieë teen die verloop van spel gedruk en was rustyd met 22-5 voor.
Die afrigters van Crusaders het rustyd verskeie strategiese veranderings gemaak en Damian Cedras (skrumskakel), Luvando Maxeke (haker), Curtley Scheepers (heelagter), Sheldon Bruiners (flank) en Henry Wolhuter (losskakel), op die veld gebring.
Die tuisspan het na rustyd vir Barbarians swaar laat leef in die skrums en verskeie strafskoppe in die faset afgedwing.
Crusaders het teruggeslaan met drie onbeantwoorde drieë en die knoop met 26-25 deurgehak. Hy skuif nou op na die vierde posisie op die punteleer met 44 punte.
Layle Delo, stut en kaptein (2), Livando Maxeke en Jaydon Onkers, senters, is vir die wenspan oor vir drieë. Wolhuter slaag met drie doelskoppe.
Vir Barbarians het Curshwon Mono (linkervleuel - 2) en Jose Petersen (binnesenter), gaan druk. Macdelin Saayman (losskakel)slaag met twee doelskoppe en twee strafdoele.
Maori's het behoorlik feesgevier nadat hulle vir Silver Stars op die Heidedal-sportterrein met 22-14 getroef het. Dit was die tuisspan se eerste oorwinning die seisoen.
Grant Scott (heelagter) en Gavin Delport (flank), het vir Silver Stars gaan druk. Henwico Stal (binnesenter), slaag met twee doelskoppe.
Bridgton het vir Blanco op sy tuisveld in 'n naelbytstryd met 28-23 geklop. Bradwin Wanies (heelagter), Anrich Daniels (regtervleuel) en Algernon Waarts (plaasvervanger) is vir die wenspan oor vir drieë. Gino van Vuuren (losskakel) slaag met 'n doelskop en drie strafdoele en Wanies klits ook 'n doelskop oor.
Groot-Brakrivier se skerpskutter-losskakel, Henn-Lin Botha, het 18 punte aangeteken, wat drie doelskoppe en vier strafdoele ingesluit het, in hul oorwinning van 33-23 oor Heidelberg. Hugh Minnies (regtervleuel), Diago Kiewiet (linkervleuel) en Grant Pockpass (plaasvervanger), is oor vir drieë.
Marquit September (binnesenter) en Simon du Toit (slot) het Heidelberg se drieë gedruk. Corbin Swartbooi (heelagter) slaag met twee doelskoppe en drie strafdoele.
Christo du Plessis (flank), probeer hom loswikkel uit die duikslag van Nathan Beukman (buitesenter).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'