GEORGE NUUS - Die beoogde tussenverkiesings in Parkdene (wyk 8), Rosedale (wyk 14) en Pacaltsdorp (wyk 27) is uitgestel.
Dit is egter nie weens die koronavirus pandemie nie, alhoewel hiervoor aansoek gedoen is, maar oor wetlike komplikasies.
Kiesers sou hierdie naweek, 21 tot 22 Maart, vir die tussenverkiesings registreer, maar dit is wel weens die uitbreking van die koronavirus gekanselleer.
Die tussenverkiesings was geskeduleer vir Woensdag 13 Mei. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Maandag bekendgemaak dat hulle die verkiesingshof dringend gaan nader om alle geskeduleerde tussenverkiesings (landswyd) uit te stel.
Ofskoon geen amptelike terugvoer oor die OVK se hofaansoek ontvang is nie, is alle aktiwiteite wat met verkiesings verband hou, gestaak. Volgens die DA se kiesafdelingshoof van George, Geordin Hill-Lewis, wag hulle nog om te hoor. "Alles is nou onseker," het hy gesê.
Die besluit volg na president Cyril Ramaphosa se aankondiging, Sondag, dat die virus as 'n nasionale ramp verklaar is. Ramaphosa het maatreëls in plek gestel om die verspreiding van die koronavirus te help bekamp, en onder meer mense aangespoor om fisieke kontak te beperk. Byeenkomste van meer as 100 mense is verbied.
"Die verkiesingsproses behels die relatiewe noue kontak tussen verkiesingsbeamptes en kiesers, waaronder die uitruil van stembriewe en inkduime," lees die OVK se verklaring. "Na afloop van die stemproses moet stembriewe ook getel word." Indien 'n besmette kieser 'n stembrief hanteer het, kan die virus vir minstens tien uur aktief bly. Hierdie is nog 'n manier waarop amptenare wat aan die telproses meedoen, besmet kan word, verduidelik die OVK.
"'n Werklike moontlikheid bestaan ook dat 'n beduidende getal kiesers in die komende tussenverkiesings mag wegbly, wat sal lei tot lae deelnamevlakke en die vryheid en billikheid van die verkiesings sal ondermyn."
Rosedale
George Herald joernalis, Salette Cloete, berig dat die gemeenskap van Rosedale baie ongelukkig is oor die nuwe DA-kandidaat vir die area. Blykbaar is daar 'n verwagting geskep dat dit iemand uit die buurt sou wees wat die gemeenskap ken en vir hulle sal werk.
Toe die komediant, Moses Williams, verlede week bekendgestel is, het baie gedink dis 'n vroeë April Fool's grappie. Baie gemeenskapslede was ook ongelukkig omdat daar nie aan die verwagting voldoen is nie. Daar is ook belowe dat hulle die geleentheid sou kry om hul ontevredenheid tydens 'n gemeenskapsvergadering te opper, wat nou blykbaar gekanselleer is.
Hill-Lewis sê die vergadering waarna die gemeenskap verwys is nie gekanselleer nie, maar wel uitgestel as gevolg van die koronavirus. "Ons gaan wel die vergaderings hou sodra die krisis verby is."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'