GEORGE NUUS - Twee van die drie voormalige DA-wyksraadslede wat onlangs die trekpas by hul party gekry het, het hul na die hooggeregshof in Thembalethu gewend.
Edmund Bussack en Belrina (Bellie) Cornelius eis hul poste as wyksraadslede van Rosedale (wyk 14) en Pacaltsdorp (wyk 27) terug, en eis dat enige tussenverkiesings in dié wyke, asook moontlike aanstellings van nuwe raadslede in die areas, onwettig en ongeldig verklaar sal word.
Provinsiale woordvoerder van die OVK, Courtney Sampson, het bevestig dat die tussenverkiesings in wyke 14 en 27 weens die nuwe verwikkelinge tot verdere kennisgewing opgeskort is.
So ook wag die OVK vir terugvoer rakende hul dringende aansoek aan die verkiesingshof oor die tydelike opskorting van alle tussenverkiesings in die land as voorsorgmaatreël teen die verspreiding van die koronavirus.
Bussack en Cornelius het hul lidmaatskap verloor toe hulle tydens 'n raadsvergadering teen 'n besluit van die DA-koukus gestem het om munisipale bestuurder, Trevor Botha, te skors.
Botha se interdik teen dié besluit is intussen gunstig deur die hof oorweeg, en hy beklee weer sy pos.
Onregverdig en onredelik
Bussack en Cornelius het 'n kennisgewing van mosie* by die hooggeregshof in Thembalethu ingedien, waarna die kennisgewing afgelewer is by die DA-streekkantoor, George-munisipaliteit en die plaaslike kantoor van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).
Die respondente word sewe dae gegun om die aansoek te opponeer, met 'n verdere 15 dae vir 'n stawende verklaring. Die saak dien Vrydag 24 April voor die hof.
Die kennisgewing van mosie voer aan dat die klousules waarvolgens die DA Bussack en Cornelius onmiddellik van die party geskrap het onregverdig en onredelik is, en nie strook met die beginsels van natuurlike geregtigheid nie.
George DA-kiesafdelingshoof, Geordin Hill-Lewis, het bevestig dat hulle die skrywe ontvang het. "Ons sal definitief reageer. Ons is nie bekommerd daaroor nie. Hulle [Bussack en Cornelius] het teen 'n DA koukus besluit gestem, wat onaanvaarbaar is. Ons het die tugproses gevolg en hulle is geskors."
Edmund Bussack en Belrina Cornelius met hul kennisgewing van mosie voor die hooggeregshof in Thembalethu.
'n Kennisgewing van mosie is 'n geskrewe of 'n gedrukte kennisgewing wat by aansoekprosedures gebruik word. In die kennisgewing word die griffier van die hoë hof en alle belanghebbende partye kennis gegee op watter dag en tyd die aansoek gebring gaan word. Die beëdigde verklaring van die applikant wat die gronde uiteensit waarop die aansoek gebaseer is, word aan die kennisgewing van mosie geheg (Personereg, Trynie Boezaart, Vyfde Uitgawe 2010).
Two of the three former DA ward councillors who recently lost their membership to the party, have appealed to the Thembalethu High Court. IEC provincial spokesperson Courtney Sampson confirmed that the by-elections in Wards 14 and 27 are suspended due to the new developments.
Verwante artikel: Stemmery moet wag weens virus
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'