GEORGE NUUS - Die bedanking van Virgill Gericke, die PBI-leier uit die party en sy aansluiting daarna by die EFF, het talle onkant betrap. Gericke het verlede Woensdag, 18 Oktober, as George-stadsraadslid bedank en twee dae later 'n parlementslid onder die EFF-vaandel in die parlement (nasionale vergadering) geword.
Die gebeure het plaaslik vir 'n politieke aardbewing gesorg en gemengde reaksie uitgelok. Sommige het dit verwelkom en ander het rooi gesien. Daar is selfs beweer dat Gericke die PBI en sy ondersteuners in die steek laat.
Gericke het Dinsdag ontken dat hy die PBI in die steek gelaat het.
"Inteendeel, die party is in baie goeie en bekwame hande. Dit was tyd vir my om aan te beweeg. Die leierskap het hul seën op my vertrek geplaas," het Gericke gesê.
"Ek raak by die EFF betrokke om inspraak op 'n groter platform vir my gemeenskap te lewer. Ek het myself uitgegiet op plaaslike vlak vir alle gemeenskappe. Ek het my bydrae ten volle gelewer. In baie gevalle was dit gevaarlik en riskant, maar ek het my lewe afgelê vir alle mense.
"My aansluiting by EFF sal verseker dat die party sal help om ongemaklike kwessies aan te spreek wat andersins nie deur die DA beheerde raad hanteer wil word nie.
"Hierdie kwessies sluit in toegang tot grond, swart ekonomiese bemagtiging, die herstel van die regte van ons inheemse volke, prioritisering van die bekamping van misdaad, aanspreek van armoede en baie ander kwessies."
Op die vraag oor moontlike koalisies het hy geantwoord: "Die nasionale leierskap (van die EFF) sal besluit oor koalisies in 2024. Ek glo hulle sal die beste besluit vir ons land neem."
Volgens hom gaan die PBI voort soos normaal.
"Niks verander nie, behalwe dat die adjunk-president oorneem as president.
"Rdl. Jerome Petersen sal dien as voorsitter van die PBI wat die daaglikse pligte sal waarneem. Alle sitplekke in rade sal steeds gevul bly deur PBI-raadslede. Vervangings is reeds afgeteken. Die PBI sal in alle erns steeds die gemeenskappe dien."
Petersen het by navraag gesê Gericke se bedanking raak nie die party nie en dit bly voortbestaan.
"Ons gaan voort soos normaal."
Hy glo nie Gericke se bedanking het die party en sy ondersteuners in die steek gelaat nie. "Kiesers het vir 'n party gestem en nie vir 'n persoon nie."
Sy bedanking het nie as 'n skok gekom nie. Onderhandelinge tussen Gericke en die EFF het al in Februarie begin.
Volgens hom het die party al reeds in September 'n besluit geneem om die EFF in aanstaande jaar se verkiesing te steun. Die PBI het nog nie besluit of hy weer op sy eie aan die nasionale en provinsiale verkiesing gaan deelneem nie.
Roselien Titus neem nou waar as president van die PBI. Sy sal in die hoedanigheid optree tot in Februarie wanneer die PBI 'n algemene jaarvergadering hou.
Die PBI het agt openbare verteenwoordigers wat proporsionele lede in stadsrade is. Met Gericke se bedanking en nog 'n PBI-lid, Catheen Jansen se bedanking uit die George-stadsraad, is daar nou vakatures wat gevul moet word.
Petersen neem Gericke se sitplek in die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in.
Edmund Bussack en Darryl Coeries ('n voormalige Springbok 7's-rugbyspeler) vul die vakatures in die George-stadsraad.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’