Breaking News
GEORGE NUUS - Virgill Gericke, PBI-lid in die George-stadsraad en die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, het as raadslid uit beide strukture bedank. Hy het dit vanmiddag aan George Herald bevestig. Dit is effektief vanaf 15 Oktober.
Die nuus het vandag vir skokgolwe in plaaslike politieke kringe gesorg toe dit bekend geword het.
Gericke is ook die president van die PBI en een van die mees senior politieke leiers in George. Hy het die party in 2011 gestig en was twee termyne lid van die George-stadsraad onder die PBI-vaandel en een termyn in die distriksmunisipaliteit.
Volgens Gericke raak dit nie die PBI se verteenwoordiging in stadsrade nie. Op die oomblik het die PBI vyf verteenwoordigers in George, twee in die distrikmunisipaliteit en een in Knysna se stadsraad.
Op die vraag oor sy toekomsplanne het hy gesê: “Mense moet geduldig wees. Daar is nuwe verwikkelinge wat ten goede van die hele gemeenskap sal wees. Groter duidelikheid sal binne die volgende paar dae bekend wees.”
In ‘n verklaring op Facebook het hy sy dank uitgespreek aan almal wat hom sowel as sy familie gesteun het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’