GEORGE NUUS - Melvin Naik is steeds burgemeester van George. Die DA se federale regskommissie het nog nie 'n besluit oor Naik se toekoms in die party geneem nie.
Volgens Andricus van der Westhuizen, DA-kiesafdelingshoof, kon die kommissie nie tot 'n finale besluit kom op grond van DA-lede se verklarings nadat hulle met Naik vergader het nie. "Daar is klagtes ingedien dat Naik DA-lede aangemoedig het om as raadslede te bedank. Die saak word tans as 'n saak van dringendheid verder ondersoek," het hy gesê.
Luidens 'n brief van Nicholas Gotsell, bestuurder van die federale regskommissie, het Naik gepoog om ander DA-lede te oorreed om 'n ander party te ondersteun, en in die raad saam met dié party te stem vir 'n mosie van wantroue teen die onderburgemeester, Charlotte Clarke en die speaker, Gerrit Pretorius.
Elsabe Oosthuizen, woordvoerder van James Selfe, voorsitter van die federale uitvoerende komitee (Fedex), het bevestig daar is, "ongelukkig nog nie enige nuus oor die beëindiging van mnr. Naik se lidmaatskap nie".
Naik is tans nog tydelik (60 dae) uit die DA geskors, na aanleiding van die Valke se besoek in April 2018. "In die belang van goeie dienslewering in George word daar gehoop dat hierdie ondersoek spoedig afgehandel sal word," het Van der Westhuizen gesê.
Burgemeester Melvin Naik (links) en die munisipale bestuurder Trevor Botha tydens 'n vorige spesiale raadsvergadering. Botha is sedert 6 Junie vir sowat 'n maand, tot 9 Julie met verlof. Foto's: Michelle Pienaar
Lees verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'