GEORGE NUUS - Alle aanduidings is dat daar teen aanstaande Woensdag, 17 November, 'n nuwe koalisie-regering in George in plek kan wees. Daar behoort ook dan duidelikheid te wees oor wie die burgemeestersketting gaan dra.
Die eerste raadsvergadering, waartydens raadslede ingehuldig sal word, is geskeduleer vir volgende Woensdag om 10:00 in die George-stadsaal.
Politieke leiers is sedert die verkiesingsuitslae bekend geword het, onder groot druk in rade waar geen party 'n volstrekte meerderheid behaal het nie. As gevolg van die Munisipale Strukturewet moet alles in plek wees binne 14 dae nadat die uitslae geproklameer is.
Die uitslae is op Saterdag 6 November geproklameer en dit gee partye tot 20 November om alles in plek te kry.
Nuwe raadslede in George sou aanvanklik môre, Vrydag 12 November, hul groot dag gevier het, maar planne het vroeër vandeesweek 'n ander rigting ingeslaan.
Onderhandelinge is steeds sterk aan die gang en dit is heel waarskynlik waarom die vergadering uitgestel is. "Ons het gehoor die pot kook daar binne!" het Theresa Fortuin, 'n wyksraadslid van die Good-party, gesê.
Die DA het 26 lede in die stadsraad, wat nie 'n volstrekte meerderheid is nie. Hulle benodig die steun van ander partye en die mees ooglopende keuses is die VF Plus met vier raadslede en die ACDP, met een lid.
Daar word verwag dat die DA die burgemeesterspos sal behou. Die nuwe keurpaneel wat die DA se burgemeesterskandidaat moet aanwys het Maandag in George gesit. Die DA se Federale Regskommissie het onlangs bevind dat die vorige keurpaneel verkeerd saamgestel is en dat die proses van voor af moes begin.
Blykbaar het sewe kandidate Maandag voor die nuwe keurpaneel verskyn. Hulle is Dirk Wessels, Bazil Petrus, Raybin Figland, Leon van Wyk, Charlotte Clarke, Stag Cronjé en Sean Snyman. Ingeligtes het Dinsdag gesê al die kandidate is weer 'n regverdige kans gegee en dit het goed afgeloop.
Helen Zille, voorsitter van die DA se Federale Raad, het Dinsdag aan George Herald gesê die paneel sal 'n aanbeveling maak aan die DA se Federale Uitvoerende Komitee (Fedex). Hulle hoop dat daar teen die naweek 'n besluit sal wees, maar indien nie, hopelik vroeg volgende week.
Oor koalisieonderhandelinge het sy gesê oorhoofse onderhandelinge vind plaas. Dit sluit George in.
Dr. Corné Mulder, Wes-Kaapse leier van die VF Plus, het by navraag gesê gesprekke tussen die party en die DA se leierskap het Maandag plaasgevind.
Hyself, die nasionale leier van die VF Plus dr. Pieter Groenewald, die DA-leier John Steenhuisen, en Zille was ook teenwoordig.
Hy het benadruk dit was oorkoepelende gesprekke oor die moontlike vorming van koalisies. Gesprekke gaan voort en hy is optimisties dat hulle tot 'n vergelyk sal kom.
Johan du Toit van die ACDP het gesê onderhandelinge vind op provinsiale en nasionale leierskapvlak plaas oor moontlike koalisies.
Dr. Cornè Mulder
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'