GEORGE NUUS - Die gerekende politieke kommentator en akademikus, Piet Croucamp, het die volgende eksklusief vir George Herald geskryf na 'n insiggewende en bemoedigende besoek (vir hom) aan George hierdie week:
Die voordeel van 'n lewe in die ivoortoring van die akademie is dat jy soms die geleentheid kry om die drukking op jou frontale lob te verlig in gesprekke met mense met werklike ondervinding van 'n lewe agter die ploegskaar.
Dennis Farell van Alfa & Omega NBS nooi my om tydens 'n ontbyt Dinsdagoggend by The Hawthorne Boutique Hotel in George met 'n klein gehoor te gesels oor die risiko's en verwagtinge vir Suid-Afrika in aanloop tot die 2024 verkiesing.
Die verrigtinge begin in goeie gees met die voorsitter wat my inlig dat hy meer dikwels drasties van my verskil en ek wat van die agtervoet af beweer 'n opinie is niks werd sonder redevoering nie.
My relaas was maar die gewone, soos die Engelse sê, 'no great shakes'. 'n Monoloog is selde meer as 'n opinie. Maar, uiteindelik was ek die heel laaste persoon om weg te stap van die geleentheid.
Die gesprekke oor 'n vingerete met individue wat eenvoudig berge versit in 'n poging om 'n verskil te maak, was absoluut verstommend. Jy voel half skuldig dat jy dalk skepties was oor die waarskynlikheid dat hierdie land en sy mense hulleself kan bekeer tot 'n konstruktiewe, algemene belang.
Die uitdagings van plaaslike regerings is enorm met armoede, werkloosheid en maatskaplike vervreemding wat die belastingbasis van middelklaswoonbuurte in 'n finansiële suurstofnood inbind.
Die burokrate is ontoeganklik en politieke elites toon weinig belang by die verwortelde ontbering van informele nedersettings. Die persepsie dat die stelsel té gebroke is om te herleef laat meermale 'n wanklank van mismoedigheid.
Maar, soms is wat jy hoor meer waardevol en belangrik as wat jy weet. Teen die tyd wat ek op die vliegtuig na Johannesburg klim, is ek heilig oortuig, teen my beterwete, dat hierdie land staande bly danksy die enkelinge en individue wat bereid is om in goeie trou te beitel aan 'n beter toekoms vir ons almal.
Die vars lug buite die ivoortoring en die determinasie van gewone mense om goed en regverdig te wees, is 'n gerusstellende openbaring. So leer 'n 'beterweterige' gees.
LEES MEER: Sterk moontlikheid van koalisieregering in 2024
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'