Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Daar is 'n sterk moontlikheid dat daar 'n koalisieregering na die 2024-verkiesing tot stand kan kom, het dr. Piet Croucamp, bekende politieke ontleder, Dinsdag 11 Oktober gesê. Hy het egter benadruk dat partye sekere aanpassings sal moet maak.
Croucamp het met George Herald gepraat tydens die bekendstellings-geleentheid van die Business Cafe. Dit het plaasgevind by die opgeknapte Hawthorne Boutique Hotel.
In antwoord op vrae van George Herald het Croucamp gesê daar moet in gedagte gehou word dat 70% van Suid-Afrikaners nie bemagtig is nie. Hulle het byvoorbeeld nie finansiële en organisatoriese vermoë nie. Hulle het nie 'n platform om hulself te bevry en te verlos van armoede nie.
As mense dit dan self moet doen, moet daar gepraat word van die middelklasgemeenskappe wat weer vasgevang is in informele politiek en weg is van die staat.
Die ander moontlikheid is die staat wat verantwoordelikheid moet neem en 'n behoorlike staat vestig. Die ANC kan dit nie doen nie.
VIDEO: Dr. Piet kyk in die politieke kristalbal
Hy voorsien 'n koalisie van partye wat saamkom en genoegsame konsensus kry. Die aanloop tot die vestiging van so 'n koalisie in 2024 is wel baie belangrik. "As jy genoeg stemme wil kry om jouself 'n koalisievennoot te maak moet jy jouself so gedra dat die breë spektrum van die mense jou ondersteun."
Om daarin te slaag moet in gedagte gehou word dat van die partye probleme het soos byvoorbeeld Action SA se xenofobiese beleid, die DA se liberale beleid en die ANC se afwesige en korrupte staat.
Volgens Croucamp is die VF Plus meestal 'n baie getroue bondgenoot van die DA. Die DA hoef regtig nie te probeer om die stemme wat hulle aan die VF Plus afgestaan het terug te kry deur te argumenteer in 'n verkiesing om eerder vir 'n groot party te stem en nie vir 'n kleiner party te stem nie. As jy dit doen ondermyn jy 'n party wat 'n goeie bondgenoot is.
"Wat jy moet doen, is om jou beleid te verander sodat jy stemme kan kry om mededingend te wees in die verkiesing," het Croucamp gesê. Die DA sal moet herstruktureer as hy 'n koalisievennoot wil wees.
In sy formele toespraak het Croucamp gesê die ANC is in ernstige moeilikheid. Hy verwag dat die party enigiets tussen 46 en 51% van die stemme gaan trek. Daar is altyd met provinsiale en nasionale verkiesing 'n hoër stempersentasie en dit sal die ANC bevoordeel.
Volgens Croucamp het die DA met die vorige verkiesing swart kiesers verloor en bruin kiesers as vanselfsprekend aanvaar. Dit was 'n massiewe fout. Hulle het ook sowat 300 000 wit stemme verloor.
Sy indruk is dat die DA nie die verkiesing wil wen nie. Die party wil net die Wes-Kaap wen/behou, 'n mate van beheer hê in van die metros en 'n algemene teenwoordigheid handhaaf.
Dr. Dennis Farrell van die Business Cafe het gesê mense moet bewus wees van die veranderings wat plaasvind en daar moet gekyk word hoe om dit aan te spreek. Daar word beoog om elke twee maande soortgelyke gespreksessies te hê met meningsvormers.
Die geleenthede sal informeel wees. "Ons wil vertroue in gemeenskappe bou en vestig. Voorts wil ons kyk na samewerking oor sake van gemeenskaplike belang."
Dr. Piet Croukamp aan die woord. Foto: Eugene Gunning
Dr. Dennis Farrell van die Business Cafe. Foto: Eugene Gunning
LEES MEER: Georgiete gee Croucamp 'n flikker van hoop
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'