GEORGE NUUS - Ten spyte van die Good-party se pogings om die tussenverkiesings te stop oor beweerde kieserregistrasie-bedrog deur die DA, het kiesers van wyke 16, 20 en 27 gister, op Woensdag 19 Julie, hul kruisies gemaak.
Nadat die onafhanklike verkiesings-kommissie (OVK) aangedui het dat die tussenverkiesings te midde van Good se klagtes steeds voortgaan, het Good hulle na die kieshof gewend met die hoop op 'n ander uitkoms.
Dit was hul egter nie beskore nie. Die uitslag van die kieshof het beslis: die verkiesing gaan voort. Good is hoogs ontevrede oor hierdie uitslag en het gister aangedui hulle gaan dit nie daar los nie.
In 'n verklaring het hul sekretaris-generaal, Brett Herron, die oordeel van die kieshof in twyfel getrek, en gesê dit is een van daardie gevalle waar die regstelsel verkeerd is.
Tertuis Simmers, provinsiale leier van die DA, het gesê hierdie aksie van Good is 'n benoude sprong voor verkiesingsdag: "Daar is geen bedrog nie, Good probeer die kiesers mislei."
Beweerde bedrog
Good se sekretaris-generaal, Brett Herron, het in drie verklarings (verlede Sondag, Dinsdagoggend en -aand) die DA van bedrog beskuldig. Daar was eerstens die kwessie van inwoners van Thembalethu wat glo deur die DA in Borcherds geregistreer is, alhoewel hulle in Thembalethu woon.
Die tweede kwessie handel oor beweerde bedrog van 188 kiesers wat almal geregistreer is op die kieserslys by dieselfde adres in wyk 16. Volgens Good wil die DA voorgee dat al hierdie mense in een huis woon, terwyl daar net twee mense in die woning is.
Die derde kwessie handel oor 'n vrou wat glo in Conville woon, en deur die DA glo valslik geregistreer is onder 'n adres in Borcherds (wyk 20). Good het die saak by die OVK aangegee en wend hul weereens tot die kieshof.
Luidens 'n verklaring van die DA gister (Woensdag 19 Julie) is die vrou se beweerde affidavit glo deur Brett Herron self geskryf, en het Good druk op die vrou geplaas om dit te teken.
"Ons het ook betroubaar verneem dat 'n saak van intimidasie teen Herron en Good se streekkoördineerder, Donovan Saptoe, by die Conville-polisiestasie in George geopen is (saaknommer 184/7/2023)," lees Simmers se verklaring.
"Die klaer is 'n kieser wat Herron en Saptoe beskuldig van aggressiewe pogings om die kieser te dwing om 'n vals beëdigde verklaring, geskryf deur Herron self, te onderteken tot die effek dat die kieser deur DA-besoekers mislei en gemanipuleer is om onregmatig geregistreer te word."
Herron het hierdie aantygings ten sterkste ontken.
Good se sekretaris-generaal, Brett Herron, beskuldig die DA van kieserregistrasiebedrog.
Simmers kap terug
Volgens Simmers is die 188 kiesers waarna Good verwys eerstens nie nuwe kiesers nie, en was reeds geregistreer vir die 2021 verkiesing - sommige glo deur Good self.
"Tweedens is hierdie kiesers almal mense wat in 'n informele nedersetting bly en is die hele area dus as een erf geregistreer. Hierdie is 'n benoude poging van Good om die tussenverkiesing te stop."
Oor die registrasie van inwoners van Thembalethu as inwoners van Borcherds, het Simmers gesê dit is absolute snert.
"Ons as DA het agtergekom daar is 'n klomp kiesers wat in Thembalethu woon, wat vroeër in Borcherds gewoon het en steeds daar geregistreer is. Ons het bloot met die mense kontak gemaak en hulle aangemoedig om hulself te laat herregistreer vir die wyk waarin hulle nou woon, met die oog op die komende nasionale verkiesing van 2024."
Volgens Simmers het alle partye meer as genoeg tyd gehad het om kommentaar oor die kiesersrol te lewer: "Daar is verskeie vergaderings gehou waar die kiesersrol bespreek is. Good het nooit vir hierdie vergaderings opgedaag nie." Simmers het uitgewys dat Good tydens verkiesingsdag 'n klagte by die voorsittende beampte mag indien, waarna die stembriewe van die 188 individue waarna hulle verwys eenkant gehou kan word, soos met spesiale stemme. Dit word dan apart hanteer.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’