GEORGE NUUS - Die ambisieuse Duran Ruiters van Pacaltsdorp is 'n tree nader aan sy droom om vir hom 'n plek in die Suid-Afrikaanse film- en teaterbedryf te vestig.
Ruiters het onlangs in Kaapstad aan sy eerste rolprent, Gaatjie, gewerk, waarin hy die hoofkarakter, Keenan, vertolk. Die rolprent is 'n onafhanklike produksie wat Ruiters met die hulp van Joshua Uren vervaardig het.
Gaatjie vertel die verhaal van Keenan, 'n jong man met groot sokkerdrome wie se lewe 'n onverwagse wending neem wanneer hy op 'n dag besluit om skool te bunk en in 'n taxi te klim.
Wat aanvanklik na 'n onskuldige besluit lyk, word die begin van 'n afwaartse spiraal. Keenan beland in die donker onderwêreld van die taxibedryf, waar skuld en verkeerde keuses hom toenemend vasvang.
Die spanning tussen hom en sy ma bereik breekpunt wanneer sy hom uit die huis sit. Hy beland op straat, waar 'n traumatiese voorval hom dwing om sy lewe te heroorweeg. Die verhaal stel uiteindelik die vraag of 'n ma se liefde sterk genoeg is om haar seun uit die onderwêreld te red.
Kyk hier na ’n voorsmakie van die rolprent:
Ruiters glo die verhaal sal Suid-Afrikaners diep raak. Hy hoop ook dat sy eie pad die jongmense in George sal inspireer om hul drome na te jaag.
"Ek wil net vir George se jongmense wys dat as mens droom, dit moontlik gemaak kan word," sê hy.
Hy skryf sy vordering aan sy geloof toe. "Al die eer en lof kom God toe. Tot hier toe het Hy my gedra, en verder sal Hy my dra."
Duran Ruiters van Pacaltsdorp op die stel van sy eerste onafhanklike rolprent, Gaatjie, wat onlangs in Kaapstad verfilm is. Hy vertolk die hoofkarakter, Keenan. Foto: Verskaf
Hoewel 'n vrystellingsdatum en besonderhede oor die première van Gaatjie nog nie bekend is nie, beplan Ruiters reeds verdere projekte en hoop hy om sy volgende rolprent in George te vervaardig.
Plaaslike ondernemings en belangstellendes wat by toekomstige projekte betrokke wil raak, kan hom by 061 723 9795 of email Ruiters kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’