Update
GEORGE NUUS - Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) gaan nie die tussenverkiesings van wyke 16, 20 en 27 op Woensdag 19 Julie uitstel nie. Dit het die Good-party genoop om hulle na die kieshof te wend, met die hoop dat die tussenverkiesings gestop sal word.
Volgens Tertuis Simmers, provinsiale leier van die DA, is hierdie aksie van Good ‘n benoude sprong voor verkiesingsdag. “Daar is geen bedrog nie, Good probeer die kiesers mislei,” het hy gesê.
Nog inligting na vore
Good se sekretaris-generaal, Brett Herron, het gisteraand in ‘n verklaring gesê nog inligting het na vore gekom wat dui op bedrog deur die DA.
Good het glo Maandag nuwe bewyse ontvang van 188 kiesers wat almal geregistreer is op die kieserslys by dieselfde adres in wyk 16. Volgens Good wil die DA voorgee dat al hierdie mense in een huis woon, terwyl daar net twee mense in die woning is.
Dit volg nadat Good ‘n vorige klagte by die OVK ingedien het oor kiesers van Thembalethu wat deur die DA blykbaar valslik geregistreer is as inwoners van wyk 20, in Borcherds.
“Dit is meer as genoeg bewyse om die uitstel van die tussenverkiesings te regverdig totdat die kieserslys deeglik ondersoek is en diegene wat vir die bedrog verantwoordelik is, ter sprake gebring is,” het Herron gesê.
Brett Heron
‘Een huis’ eintlik ‘n plakkerskamp
Volgens Simmers is die 188 kiesers eerstens nie nuwe kiesers nie, en was reeds geregistreer vir die 2021 verkiesing – sommige glo deur Good self. “Tweedens is hierdie kiesers almal mense wat in ‘n informele nedersetting bly, en is die hele area dus as een erf geregistreer. Hierdie is ‘n benoude poging van Good om die tussenverkiesing te stop.”
Thembalethu-inwoners het verhuis
Oor die registrasie van inwoners van Thembalethu as inwoners van Borcherds, het Simmers gesê dit is absolute snert.
“Ons as party kan hulle net aanmoedig om dit self te doen of hulle bewus maak van die OVK se aanlynproses wat hulle ook kan gebruik. Ons as DA het agtergekom daar is ‘n klomp kiesers wat in Thembalethu woon, wat vroeër in Borcherds gewoon het en steeds daar geregistreer is. Ons het bloot met die mense kontak gemaak en hulle aangemoedig om hulself te laat herregistreer vir die wyk waarin hulle nou woon, met die oog op die komende nasionale verkiesing van 2024.”
Simmers wou nie spekuleer oor die moontlike uitspraak van die kieshof nie, maar hy het gesê dat alle partye meer as genoeg tyd gehad het om kommentaar oor die kiesersrol te lewer: “Daar is verskeie vergaderings gehou waar die kiesersrol bespreek is. Good het nooit vir hierdie vergaderings opgedaag nie.”
Volgens Simmers het Good steeds die reg om ‘n klagte by die voorsittende beampte in te dien, waarna die stembriewe van die 188 individue waarna hulle verwys eenkant gehou kan word, soos met spesiale stemme, en dan kan dit apart hanteer word.
Tertuis Simmers
Vorige artikel: Tussenverkiesings môre vir 3 wyke
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’