GEORGE NUUS - Op Woensdag 19 Julie, sal inwoners van New Dawn Park (wyk 16), Ou Pacaltsdorp (wyk 27) en Borcherds (wyk 20) naderstaan om 'n kruisie by hul gekose wykskandidaat te maak.
As dit reënweer is, beteken dit baie harde werk vir al die partye om seker te maak kiesers bly nie eerder tuis waar dit warm en droog is nie. Spesiale stemme sal plaasvind op 18 en 19 Julie.
Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het 'n lys van die partye en kandidate bekendgemaak wat aan die tussenverkiesing gaan deelneem.
Altesaam sewe partye het kandidate geregistreer: ANC, DA, PBI, EFF, PA, Good en Ara (Africa Restoration Alliance). Al die partye het kandidate in al drie wyke, behalwe die ANC wat nie in wyk 27 gaan staan nie.
Die DA, Good en PBI het reeds weke gelede hul kandidate aan die media bekendgemaak, waarna 'n berig in George Herald op 22 Junie verskyn het.
Met behulp van die OVK kan ons die volgende kandidate aan die publiek bekendmaak, soos dit op hul webtuiste verskyn:
Vir wyk 16: Maria Micheals (ANC), Theresa Jeyi (DA), Henry Noble (PBI), Zinnia Malietie (EFF), Franselin Kaptein (PA), Naellowine Esau (Good), Leonora Brinkies (Ara).
Vir wyk 20: John Yoko (ANC), Neville Louw (DA), Darryl Coeries (PBI), Elaine Jantjies (EFF), Christo Alexander (PA), Rosa Louw (Good), Leonora Brinkies (Ara).
Vir wyk 27: Marchell Kleynhans (DA), Varity Bewee (PBI), Noel Remas (EFF), Dawid Ryk (PA) Richard Hector (Good), Leonora Brinkies (Ara).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’