GEORGE NEWS - Die AIC-raadslid Abel Kiwit het uit die George-stadsraad bedank. Dit is Woensdag deur Gerrit Pretorius, speaker van die George-stadsraad, bevestig. Kiwit het vroeër Woensdag in 'n verklaring aangedui dat hy as raadslid bedank. Kiwit, 'n proporsionele raadslid, was onlangs in die nuus toe dit bekend geword het dat hy na bewering drie agtereenvolgende raadsvergaderings gemis het, waarvoor hy vir net een verskoning gemaak het.
'n Besluit is tydens 'n raadsvergadering in Augustus geneem om 'n ondersoek te begin na Kiwit se beweerde wangedrag. Kiwit het sy skootrekenaar wat aan raadslede gegee word, op twee verskillende geleenthede verpand.
Hy het dit die eerste keer teruggekoop, maar die rekenaar is uiteindelik in Februarie 2017 deur 'n lid van die publiek gekoop. Kiwit het maande later 'n saak van diefstal by die Conville-polisiestasie geopen en beweer dat die rekenaar gesteel is.
In sy bedankingsverklaring, wat Woensdag uitgereik is, sê Kiwit hy het dit geniet om as raadslid te dien.
Hy het inwoners en belastingbetalers bedank dat hy die geleentheid gehad het om as raadslid te kon dien.
Hy is nie van voorneme om die openbare lewe te verlaat nie. Sy bedanking is deel van groter voorbereidings om in 'n hoër hoedanigheid te dien.
Volgens hom wag daar baie werk vir sy opvolger. Die naam van sy opvolger sal aanstaande week bekend gemaak word.
Hy het die hoop uitgespreek dat die GO GEORGE openbare vervoerstelsel uitgebrei word na die landelike gebiede en die George-lughawe.
Hy het onderneem om 'n sterk werksverhouding met sy opvolger te hê.
Pretorius het gesê Kiwit het in sy bedankingsbrief nie redes verskaf vir sy bedanking nie.
Hy het wel aangedui dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en sy party, die raad sal inlig oor wie hom gaan opvolg.
Volgens Pretorius sal die nuwe raadslid ingesweer word sodra die nodige kommunikasieprosesse van die OVK en die AIC afgehandel is. Daar kan nie opgetree word voordat die nodige dokumentasie ontvang is nie.
The AIC (African Independent Congress) member of the George city council, Abel Kiwit, has resigned. Kiwit released a statement in this regard on Wednesday. Gerrit Pretorius, speaker of the city council, confirmed Kiwit's resignation to the George Herald.
Lees 'n vorige artikel hier: Raad moet besluit oor 'verlore' raadslid
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'