Update
GEORGE NUUS - Stappe teen die AIC-raadslid Abel Kiwit berus by die George-raad. Kiwit het drie agtereenvolgende raadsvergaderings gemis, waarvoor hy vir net een verskoning gemaak het.
Volgens die speaker, Gerrit Pretorius, dien hy op etlike artikel-80 komitees en was hy reeds by meer as drie van dié komiteevergaderings afwesig, sonder verlof.
"Ingevolge item 4(3) van die gedragskode geskied enige optrede wat teen 'n raadslid oorweeg word, volgens staande prosedures (SP)," het Pretorius by navraag gesê. "Indien so versoek deur die raad, sal 'n bywoningskomitee, ingevolge die SP, 'n ondersoek doen."
Pretorius het verlede week tydens 'n raadsvergadering opgemerk dat sy kantoor nie daarin kon slaag om met Kiwit kontak te maak nie. Die George Herald se pogings was ook onsuksesvol. Kommentaar van die algemene sekretaris van die AIC-party, Steven Jafta, word afgewag.
Op 'n navraag oor die prosedures wat geskied indien 'n raadslid vergaderings mis, het Pretorius die volgende geantwoord: "Ingevolge Item 3 van die gedragsreëls vir raadslede, soos vervat in die stelselswet, word van raadslede verwag om alle raads- asook artikel 80 komiteevergaderings (portefeuljekomiteevergaderings) waarvan hy/sy lid is, by te woon. Item 4(2) van die gedragsreëls bepaal dat indien 'n raadslid sonder verlof afwesig is van drie of meer opeenvolgende raadsvergaderings of drie of meer opeenvolgende artikel 80 komiteevergaderings hy/sy as raadslid verwyder moet word."
'n Besluit is tydens 'n raadsvergadering in Augustus geneem om 'n ondersoek te loods na raadslid Kiwit se beweerde wangedrag. Kiwit het sy skootrekenaar wat aan raadslede gegee word, op twee verskillende geleenthede verpand.
Hy het dit die eerste keer teruggekoop, maar die rekenaar is uiteindelik in Februarie 2017 deur 'n lid van die publiek gekoop. Kiwit het maande later 'n saak van diefstal by die Conville-polisiestasie geopen en beweer dat die rekenaar gesteel is.
Intussen is 'n klag van meineed teen Kiwit geopen. Die nasionale vervolgingsgesag moet nou 'n besluit neem.
Die George Herald wag op terugvoer van kol. AB Kriga, stasiebevelvoerder van Conville-polisie.
Lees 'n vorige artikel: 'Missing in action'
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'