NASIONALE NEWS - Liewer 'n halwe eier as 'n leë dop. So voel Trudi Stander, die organiseerder van die "Garden Route Cake Off", wat hierdie jaar vir die sesde agtereenvolgende jaar plaasvind.
Hulle sal nie toelaat dat grendeltyd hierdie liefdadigheidsgeleentheid in die wiele ry nie en gaan, soos miljoene dwarsoor die wêreld, hulle tot tegnologie wend om steeds geld in te samel vir behoeftiges. "Vanjaar se 'Cake Off' vind aanlyn plaas en ons doen dit nie net in Mosselbaai nie, maar ook in George en Oudtshoorn," sê Stander.
Met die tema "High Tea during #lockdown" gee vanjaar se Cake Off diegene met 'n passie vir bak die geleentheid om hul bak- en versiervaardighede ten toon te stel.
Skryf dadelik in
Voornemende deelnemers moet gou spring om in te skryf, want daar is slegs enkele dae oor en bakkers moet die dag voor die kompetisie foto's en 'n kort video stuur. George se kompetisie vind Donderdag 23 April plaas, Mosselbaai en Hartenbos s'n op 24 April en Oudtshoorn s'n reeds op Woensdag 22 April.
"Dit kan wees hoe hulle besig is om te bak en te versier en hoe hulle deur die proses gaan om hul produkte te voltooi," sê Stander." Elke bakker moet 'n koek, 12 oliebolle (doughnuts) en 12 skuimpies (meringues) volgens die tema bak. Die beoordeling die jaar werk ook anders en daar sal onder meer gefokus word op hoe mooi die tema deurgetrek is, tegnieke wat gebruik is en hoe die eindproduk lyk."
Die eindprodukte word in die onderskeie dorpe opgeveil. Geld wat ingesamel word, gaan aan die onderskeie dorpe se korona-kospakkieprojekte, die deelnemers, asook aan bemarking en advertensie.
Die drie dorpe se wenners gaan in die eerste week van Mei in die streekskompetisie teen mekaar meeding om te sien wie die Tuinroete se beste bakker is. 'n Kontantprys is op die spel.
Vanjaar se beroemde beoordelaar is die bekende Suid-Afrikaanse sanger Tobi Jooste. Hy word bygestaan deur Hilary Otto, Denise Lloyd, Ian Perryman, Cecilia van der Heyde en Ronelle Stopforth.
Inligting
Bobaasbakkers kan 'n WhatsApp na Stander by 079 232 9085 stuur om in te skryf. Inskrywings is heeltemal gratis. Vir meer inligting besoek die webtuiste.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'