Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Suid-Afrikaanse fietsrylegende, Willie Marx, is vandag (23 Maart) 80 jaar oud. Van stilsit weet hy nie en hy ry nog omtrent elke dag fiets. Dis nie vreemd om hom dikwels in die saal van sy ysterperd in die Outeniquapas te sien nie.
Op Sondag (19 Maart) het hy juis weer 'n deel van die pas aangedurf. Hy is op die oomblik 'n inwoner van Tuiniqua-versorgingsentrum.
In sy lewe en fietsryloopbaan het hy al baie lang paaie aangedurf. Die talle prestasies wat hy in fietsry behaal het sluit in Springbokklere en hy was minstens vyf keer Suid-Afrikaanse naelritkampioen.
Hy het 'n paar dae voor sy verjaarsdag met George Herald gesels en talle van die ou koerantberigte gewys wat oor sy roemryke fietsryloopbaan verskyn het.
Marx is in die destydse Port Elizabeth gebore en het daar skoolgegaan. Aanvanklik het hy geboks en sy afrigters het vir hom gesê hy slaan hard, maar staan te stil in die kryt. Om sy bene sterk te maak het hy begin fietsry en het onmiddellik daarvan gehou.
Hy het mededingend begin ry en gewen. Hy het ook rugby gespeel en as haker uitgedraf. Later het al sy fokus na fietsry verskuif en dis in dié sport waar hy groot hoogtes bereik het.
Willie Marx, Suid-Afrikaanse fietsrylegende, wys van die foto's en aandenkings van sy roemryke loopbaan.
Een van die grootste teleurstellings was toe hy nie aan die Olimpiese Spele in 1968 in Meksikostad, Meksiko, kon deelneem nie. Hy was al in die stad, maar is twee dae voor die begin van die Spele ingelig Suid-Afrika kon nie deelneem nie en hy moes na Suid-Afrika terugkeer. "Ek het baie in die vliegtuig op pad terug gehuil."
Hy het wel voortgegaan om aan fietsry deel te neem en drie jaar gelede het hy opgehou om mededingend deel te neem.
Marx is eindelik Engelssprekend, maar sy bedrewenheid in Afrikaans is omdat hy met 'n Afrikaanse meisie getrou het.
Destyds het hy studeer om 'n elektrotegniese ingenieur te word. Hy het bedags studeer en saans aan fietsry deelgeneem. Hy het as die Midnight Rider bekendgestaan.
VIDEO: Kyk wie is 80
So 50 jaar gelede het hy 'n elektroniese onderneming begin. Op 'n stadium was hy in 'n fietsongeluk en het erge kopbeserings opgedoen. Hy het die onderneming verkoop en later Willie Marx Cycles in Yorkstraat begin wat vandag nog bestaan.
Volgens Marx sal hy alles weer doen as hy die kans kry. Van 1961 tot 1963 was hy in Europa vir sy fietsryloopbaan. Vandag is hy spyt dat hy nie langer daar gebly het nie.
Marx het gesê fietsry is 'n baie gevaarlike sport. "Mense besef nie hoe vinnig fietse ry nie."
Hy het sowat 10 keer geval waarvan twee keer baie ernstig was. Nieteenstaande sal hy die sport sterk aanbeveel. "Dit hou mens gesond."
Hy het kosbare herinneringe en aandenkings soos sy Springbokbaadjies, talle foto's, medaljes en ou koerantberigte.
Een van sy kosbare herinneringe is 'n braaigeleentheid saam met die rugbylegende, Mannetjies Roux op sy plaas.
Op die oomblik is Marx nog gesond en is baie dankbaar vir die vol lewe wat hy gehad het. Hy sal fietsry solank hy nog sy voet oor die middelraam van die fiets kan sit.
Marx is die trotse pa van vyf kinders en twee kleinkinders.
Annelie Bennett, dienssentrumkoördineerder van Tuiniqua, het gesê Marx se verjaarsdag sal vanaand op 'n gepaste wyse by die sentrum gevier word.
Willie Marx, Suid-Afrikaanse fietsrylegende, wys een van sy Springbokbaadjies. Foto's: Eugene Gunning
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'