GEORGE NUUS - Hoe meer dae, hoe meer dinge. Só kan 'n mens sê van die woelige inwoners van Tuiniqua waar een van die nuutste aanbiedings spinklasse gaan wees.
Al wat kort is die fietse, want daar is reeds 'n ervare afrigter wat gretig is om met die klasse te begin, en dis niemand minder nie as die bekende Willie Marx. Sy eie spinfiets is klaar by Tuiniqua afgelewer.
Die fikse 76-jarige Willie is weer op die been nadat hy drie weke in die hospitaal was met 'n gebreekte nek en rug. Hy het by vanjaar se Cape Town Cycle Tour ongeveer 20 km na die wegspring geval.
Twee vroueryers het gebots en veroorsaak dat ryers in die bondel waarin Willie net agter die twee gery het, geval het.
Operasies het gevolg, maar danksy Willie se goeie fisiese toestand en fiksheid, het hy goed herstel.
"Die een dokter daar in die Kaap het gesê net 'n bulldozer sal my doodkry, dis 'n wonderwerk dat ek lewe. Ek het vinnig herstel en het al weer hier op Tuiniqua se gronde gery. Ek sal nie weer aan 'n resies deelneem nie, maar net ry vir oefening."
Die dokters het gesê hy mag nie weer val nie, en hy moet versigtig wees.
Sy dogter, Liezle, wat saam met haar pa in die CTCT gery het, sê hy het 'n baie sterk wil en hy het na die ongeluk besluit hy sal weer fietsry.
Willie was een van die eerste Suid-Afrikaners wat 'n internasionale fietsrykontrak losgery het. Hy was 18.
"Ek het op daai ouderdom die Britse kwartmylrekord verbeter deur dit in 24,8 sekondes te ry. Dit staan vandag nog. Dit was my eerste reis oorsee," sê hy.
In dieselfde jaar was hy derde in die internasionale kampioenskappe in Holland. Na sy kontrak in Holland het hy teruggekeer na Suid-Afrika waar hy op die hoogste vlak presteer het.
Hy het die SA baanfietskampioenskappe sewe keer gewen en Suid-Afrika nege keer by die wêreldkampioenskappe verteenwoordig. Op die ouderdom van 47 was hy in 'n ernstige fietsryongeluk wat hom vir sewe dae in 'n koma gedompel het.
Hy moes 'n aantal breinoperasies ondergaan. 'n Jaar later was hy egter terug op sy fiets, en hy het nooit ophou ry nie. Vanjaar sou sy 20ste CTCT gewees het.
Nou wil Willie die fietsryvlammetjie onder inwoners van Tuiniqua aansteek met spinklasse, maar spinfietse word benodig. Dit kan tweedehandse fietse ook wees.
Mense wat wil help deur fietse aan te koop of te skenk, kan Tuiniqua se bestuurder, Alani Voigt bel by 044 874 5760. Willie Marx Cycles sal fietse teen kosprys beskikbaar stel as daar borge na vore kom.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'