GEORGE NUUS - 'n Passasier in 'n afleweringsvoertuig van 'n maatskappy in George, is Dinsdagoggend omstreeks 05:00 dood in 'n botsing op die George-pad sowat 12 km buite Oudtshoorn.
Die oorledene, was volgens die polisie die 23-jarige Veronique Maswati. Sy was deel van 'n span van tien mense van Noc n Drop in George wat na Calitzdorp en Ladismith onderweg was om pamflette te versprei.
Volgens die bestuurder van die voertuig het hy in 'n skerp draai geskrik vir 'n voël wat teen die voertuig vasgevlieg het. Hy het links van die pad afgery en met die linkerkant van die voertuig teen die rotswand vasgery. Hy is nie in die botsing beseer nie.
Die agt passasiers is met ambulanse na die Oudtshoorn-hospitaal geneem. Die Oudtshoorn Courant het die maatskappy net na 08:00 van die botsing in kennis gestel.
Die maatskappy het daarna nie op navrae gereageer nie.
Volgens inligting wat van werknemers ontvang is, is vyf van hulle beseer. Twee was teen Dinsdagmiddag ontslaan. Een het 'n beenfraktuur opgedoen en die ander een is vir hoofbeserings behandel. Volgens hulle is drie beseerdes steeds in die hospitaal met verskeie beserings.
'n Vrou wat na Ladismith onderweg was het op die botsing afgekom en die nooddienste in kennis gestel.
Die botsing het sowat 'n kilometer vanaf die Perdeskoendraai in 'n skerp draai plaasgevind.
Daar was die afgelope paar jaar ten minste sewe botsings op dieselfde plek, waarvan ten minste drie persone gesterf het.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'