GEORGE NUUS - Tuiniqua-versorgingsentrum het 'n handige meevallertjie van meer as R1,5 miljoen van die Nasionale Loterykommissie ontvang. Dit volg nadat Tuiniqua se aansoek by die instansie suksesvol was.
Tuiniqua het sowat 200 inwoners en hul ouderdomme wissel tussen 61 en 100 jaar.
Alani Voigt, sentrumhoof, het Maandag 22 Augustus bevestig dat die aansoek suksesvol was. Die totale bedrag beloop R1 565 000.
Volgens haar het Tuiniqua vroeër vanjaar aansoek gedoen. Dit was nadat 'n groot behoefte geïdentifiseer is vir kapitaalprojekte en diensleweringsprogramme.
Voordat Tuiniqua formeel aansoek kon doen, moes 'n deeglike aansoek eers voorberei word. Nadat die aansoek ingedien is, het die moniterings- en evaluee-ringseenheid van die Nasionale Loterykommissie 'n ter plaatse inspeksie kom doen om hulle eerstehands van die situasie te vergewis.
Tuiniqua kon toe ook verder sy aansoek toelig en op vrae antwoord.
Voigt het gesê die aansoek is nou in beginsel goedgekeur en dit sal later uitbetaal word. Die bal is reeds aan die rol om seker te maak dat die geld bestee word. Een van die vereistes is dat die geld binne 'n jaar bestee word.
Die geld sal onder meer aangewend word vir die verf van die geboue, nuwe beddens en diensleweringsprogramme.
Talle van die projekte wat aangepak word, sal tot voordeel van die veiligheid van die inwoners wees.
"Ons is verheug oor die toekenning. Die sentrum is geweldig onder druk en ons lede is ook toenemend onder druk. Inflasie styg en lede se pensioene hou nie tred met inflasie. Voorts is daar stygende kostes soos brandstofpryse.
"Die geld sal help om baie gaatjies te vul. Dit was die eerste keer dat Tuiniqua aansoek gedoen het. Ons is baie verras dat ons eerste aansoek suksesvol was."
Sy het benadruk daar sal sekergemaak word dat die geld korrek en tot voordeel van die inwoners aangewend word.
Tuiniqua is van voorneme om weer aanstaande jaar aansoek te doen. "Ons hoop dat 'n goeie verhouding kan ontwikkel tussen die raad en ons."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'