GEORGE NUUS - As ek in die gemeenskap loop, keer die kinders my voor en hulle vra: Oom Wilbur wanneer sal ons kan hardloop?"
Só sê Wilbur Harris, lid van die George-stadsraad oor die beplande tartan-atletiekbaan by die Rosemoor-sportstadion. Vrae en frustrasie het opnuut ontstaan oor die bou van die baan omdat dit meer as 'n jaar nadat die weg daarvoor gebaan is, nog nie gebeur het nie. Kommer bestaan in sekere kringe dat die vertragings die bou van die baan kan kelder.
Harris, die man wat hard geveg het om te verseker dat George so 'n baan kry en 'n stadsraadslid wat naby die Rosemoor-sportstadion woon, soek antwoorde.
Volgens hom is daar verwagtinge geskep. Hy is van voorneme om die saak op 8 Oktober by 'n vergadering van die Gemeenskapsdiens- en maatskaplike ontwikkelingskomitee van die stadsraad te opper.
Hy het ook besluit om intussen self ondersoek in te stel. 'n Senior amptenaar van die munisipaliteit se departement sport en rekreasie, het aan hom gesê 'n konsultant is wel aangestel vir die ontwerp van die baan.
In die vorige boekjaar het die nasionale regering R8,7 miljoen bewillig uit die Division of Revenue Act en die munisipaliteit het R2,7 miljoen bewillig.
Blykbaar was daar daarna onsekerheid oor watter munisipale departement verantwoordelik is vir die siviele werke by die stadion. Dit is intussen opgeklaar.
Daar is egter 'n nuwe kinkel in die kabel. Die klaarblyklike vertragings is moontlik daarvoor verantwoordelik dat die munisipaliteit die tesourie moet vra om die geld van die nasionale regering oor te dra na die nuwe boekjaar omdat dit nie bestee is in die boekjaar waarin dit bewillig is nie. Hy is bekommerd dat die geld weggeneem kan word omdat dit nie bestee is nie.
'n Senior amptenaar van die George-munisipaliteit, wat verkies om anoniem te bly, het bevestig dat nasionale tesourie gevra word om die bewilligde geld in die 2018/2019 boekjaar oor te plaas na die 2019/2020 boekjaar. Die proses het reeds begin. Dit raak nie die munisipaliteit se deel nie.
Die amptenaar voorsien nie probleme nie, want dit word gedoen in samewerking met die Wes-Kaapse departement van kultuur en sport.
Daar word nou gewerk om die tenderdokumente in plek te stel en daarna sal die gewone prosesse volg. Die plan is om die baan gereed te hê teen einde Junie 2020.
Lees 'n vorige artikel: George gaan beslis 'n tartanbaan kry
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'