Update
GEORGE NUUS - George-speurders betrokke by die ondersoek ná die Rooirivierrif-sportklub verlede week in ligte laaie gelaat is, laat nie gras onder hulle voete groei nie. Sedert die tragiese voorval vroeg Maandagoggend 12 November, is twee verdagtes reeds in hegtenis geneem.
Die eerste verdagte, Jacobus Boshoff (28), is die dag ná die voorval met elektroniese toerusting, wat as eiendom van die Rooirivierrif-sportklub uitgeken is, in sy besit betrap. Hy het reeds in die George-landdroshof verskyn en sal in aanhouding bly tot hy weer op 11 Desember moet voorkom.
Op Saterdag 17 November het die polisie beslag gelê op 'n hardeskyf wat vermoedelik ook aan die klub behoort. 'n Veertigjarige man, Jonathan Williams, is in verband hiermee in Maraiskamp in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag op 'n aanklag van besit van vermoedelik gesteelde eiendom in die George-landdroshof verskyn en bly in aanhouding. Die aanklagte teen die twee mans sal in alle waarskynlikheid saamgevoeg word.
Die hardeskyf, wat moontlik belangrike bewyse rakende die voorval bevat, is vir ontleding gestuur.
Hoewel die polisie brandstigting vermoed, sê die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, dat die verdagtes wat in hegtenis geneem is in hierdie stadium nog nie direk met die brand verbind kan word nie.
"Die moontlikheid dat hulle by die brand betrokke was, word ondersoek, maar dit kan nog nie bevestig word nie. Albei is op 'n aanklag van besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem. Ons verwag egter om binnekort 'n deurbraak te maak," het hy gesê.
Die gewilde Rooirivierrif-sportklub is onlangs deur 'n brand in puin gelê.
* Two men have been arrested since the Rooirivierrif sports club burnt to the ground on Monday 12 November. Both were caught with electronic equipment in their possession that belongs to the club. Jacobus Boshoff (28) and Jonathan Williams (40) already appeared in the George Magistrate's Court. They will remain in custody until their next court appearance in December. Although they can't be directly linked to the fire at this stage, the possibility is being investigated. They were arrested on charges of possession of possible stolen goods.
Die Rooirivierrif-sportklub is na bewering verlede Maandag 12 November opsetlik aan die brand gesteek. Foto's: Kristy Kolberg
Lees vorige artikels:
- 'Die Rif' nou net roet en as
- Rooirivierrif: Brandstigting ondersoek
- Brand verwoes Rooirivierrif-Sportklub
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'