Update
GEORGE NUUS - Die polisie het bevestig dat 'n 28-jarige verdagte Dinsdagoggend, 13 November, in hegtenis geneem is ná hy in besit betrap is van elektroniese goedere wat uitgeken is as eiendom van die Rooirivierrif-sportklub.
Dié gewilde kuierplek, wat ook deur kliënte as Die Rif gedoop is, is Maandagoggend omstreeks 04:00 deur 'n brand in puin gelê.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, word 'n klag van brandstigting ondersoek. Die direkte oorsaak van die brand is nog nie bevestig nie. "Plaaslike forensiese deskundiges het reeds 'n voorlopige ondersoek op die toneel gedoen. 'n Aanvullende ondersoek sal nou deur die K9-honde-eenheid gedoen word," sê hy.
Pojie sê voorlopige inligting dui daarop dat 'n werker wat op die perseel woonagtig is, omstreeks middernag in sy woning van buite toegesluit is. Hy kon wel daarin slaag om die deur met behulp van ‘n graaf van binne oop te maak en ondersoek in te stel. "Volgens hom was alles rustig tot ongeveer 04:00 toe die geluid van die brand, in veral die dak van die klubhuis, hom wakker gemaak het," sê Pojie.
Die werker het daarna ondersoek ingestel, maar die gebou was reeds in ligte laaie. Hy het by ‘n nabygeleë woonkompleks om hulp aangeklop en die polisie sowel as brandweer is deur ‘n inwoner na die toneel ontbied.
Enigiemand met inligting oor die voorval word gevra om adjudant-offisier, Jerome Malan, van die George-speurtak by 044 803 4715 of Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak.
Die vooraansig van die bekende Rooirivierrif-sportklub na die brand Maandagoggend.
Die verdagte sal in alle waarskynlikheid vandag in die George-landdroshof, op 'n aanklag van besit van besit van vermoedelik gesteelde items, verksyn. Die ondersoek duur voort.
Kliënte van Die Rif is dit eens dat dit 'n baie gewilde kuierplek was waar hulle veilig en ontspanne gevoel het. Sommige sê dit was die beste kroeg in George.
"Ek bedank graag die gemeenskap van George, veral dié wat gereeld by Die Rif kom kuier het. Ek wil ook my personeel bedank vir hulle bystand en ondersteuning in die verlede en ook nou. Vir my bestuurder, Wayne Weyer, wil ek graag spesiaal dankie sê vir alles wat hy vir my doen. Hy is werklik my regterhand," het die eienaar van die kroeg by die klubhuis, Alet Grobler, aan die George Herald gesê.
Grobler het haar man, Petrus (Grobbie) Grobler, in Junie verlede jaar aan die dood afgestaan. Sedertdien het sy die leisels by die sportklub oorgeneem en dit verder uitgebou tot 'n heerlike kuierplek vir die hele gesin.
Die polisie was Maandagoggend vroeg op die toneel waar die Rooirivierrif-sportklub deur 'n brand verwoes is.
IN SHORT
*One person has been arrested after the fire that razed the Rooirivierrif sports club to the ground on Monday morning. The 28-year-old suspect was arrested in possession of stolen goods confirmed to belong to the club. This well-known establishment was burnt to the ground at approximately 04:00. At this stage the police are investigating arson.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'